Local newsNews

Inwoner van Modimolle sterf in ongeluk

Die polisie vermoed dat Goosen beheer verloor het en uit die voertuig geslinger is.

’n Motorongeluk op die R33-pad tussen Modimolle en Alma het die lewe van ’n inwoner van Modimolle geëis.

Die 45-jarige Willie Goosen is op slag dood toe sy voertuig om 02:00 Saterdagoggend 6 Oktober op dié pad gerol het. Hy was glo op pad terug huis toe. Die polisie vermoed dat hy beheer verloor het en uit die voertuig geslinger is, het AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, aan Die Pos gesê.

Goosen se hartseer ouers, Johan en Veronica Goosen, het gesê hulle ontvang baie ondersteuning uit die gemeenskap.

“Die mense se reaksie is ongelooflik. Ons kry aanhoudend oproepe en besoeke. Ons bedank almal wat meegevoel aan ons betoon het. Ons het soveel wonderlike stories van ons seun gehoor waarvan ons nie eens bewus was nie. Vir ons was dit ’n voorreg dat ons Skepper hom vir 45 jaar aan ons geleen het. Nou het Hy hom nodig en al treur ons, weet ons hy is gelukkig waar hy is,” het sy pa gesê.

Goosen se gedenkdiens is op Donderdag 11 Oktober deur ds. Willem Sauer in die Her-vormde Kerk in Modimolle gelei.

Goosen, wat met hoenders geboer het, was nie getroud nie en laat sy ouers, sy suster Elizabeth Roodt en haar gesin wat in Australië woon, asook sy suster Veronica van Graan van Polokwane en haar gesin agter.

Related Articles

Back to top button