Local newsNews

Duisende hektaar in veldbrande verwoes

Die skade wat die hitte van die vlamme aanrig, beskadig die gehalte van die grond. “Dit is sleg vir die Waterberg-biosfeer.”

Die Waterberg-omgewing is in September deur erge veldbrande geteister en op Maandag 24 September het 200 hektaar op die plaas Goedehoop buite Vaalwater afgebrand.

Hans Roets, ’n lid van die familietrust en bestuurder van die plaas, het ’n saak van brandstigting by die polisiestasie in Vaalwater geopen.

Die skade wat die hitte van die vlamme aanrig, beskadig die gehalte van die grond, het Marthinus Roets, Hans se broer, gesê. “Dit is sleg vir die Waterberg-biosfeer.”

Hy het ook gesê hulle is dankbaar vir die diens wat die Working on Fire-spanne (WoF) lewer en al die gemeenskapslede se hulp.

Mariëtte Nicholson van die Modimolle-brandbeskermingsvereniging (BBV) en basisbestuurder van die WoF-spanne in Alma, Vaalwater en Modimolle, het gesê ’n verpletterende 12 000 hektaar het die afgelope seisoen net in haar gebied afgebrand en al haar spanne was gelyktydig besig om brande tussen Middelfontein en Driefontein op die Melkrivier-pad in Vaalwater, waar 1 000 hektaar al gebrand het, te bestry.

Nicholson het gesê lede van die Modimolle-BBV het die vervoerkoste van die WoF-voertuie na die toneel betaal. Hulle lewer ook kospakkies indien brande nog nie ná 19:00 geblus is nie. Die maatskappy Kishugu hanteer die insameling van WoF se vervoerkostes na en van tonele.

Lidmaatskap aan die Modimolle-BBV kos R420 vir 300 hektaar en daarna R1,50 per hektaar. Die WoF-spanlede se salarisse word deur die regering gesubsidieer.

Related Articles

Back to top button