Local newsNews

Die dae toe dagbesoekers die warmbronne teen 20 c per persoon kon besoek ….

Die Pos het onlangs in ’n ou stoorkamer op ’n pamflet afgekom wat in 1977 deur Warmbad Mineral Baths uitgegee is.

Bela-Bela (wat in die volksmond as Warmbad bekend geword het) staan steeds as “toerismedorp” bekend; hoewel inwoners reken dat die stadsvaders nodig het om die dorp so ’n bietjie af te stof en vernuwend te dink as hulle steeds besoekers van heinde en ver wil lok.

Waar Warmbad in die vorige dekade of vier ’n bloeityd in die ekonomie beleef het danksy die natuurlike warmbronne in die omgewing, is baie besoekers deesdae mense wat na vakansieoorde buite die dorp reis en dikwels nie eens in die dorp self aandoen om hul voorrade te koop of brandstof in te gooi nie. Die Gautengse koopkrag gaan dus in baie gevalle die dorp verby.

Die dorp het steeds talle ou woonhuise wat “vakansiewoonstelletjies” agter in die erwe het, omdat dié gebruik eens op ’n tyd ’n welkome ekstra geldjie vir talle inwoners in die sak gebring het. Daar is ook talle vakansiewoonstelle in die dorp wat mettertyd in bekostigbare permanente verblyf omskep is.

“Bela-Bela is naby genoeg aan Pretoria dat motorfietsryers, groepe vroue wat net vir ’n slag uit die stad wil kom en families vir die dag sal uitry hierheen,” meen ’n sakeman met wie Die Pos gesels het. “Maar dan sal die munisipaliteit en sakelui hul sokkies moet optrek en saamstaan om die dorp ’n nuwe baadjie te gee. “Besoekers moet welkom voel, die ingange moet mooi wees, hier moet lekker eet- en kuierplekke wees. Iets soos wat die mense van Dullstroom regkry,” meen die sakeman. “Dink net wat dit vir werkskepping in ons dorp kan beteken!”

Dié dorp, wat ook as die Sonskyndorp bekend staan, het nie te lank gelede nie juis dít reggekry; grootliks te danke aan die Warmbad Minerale Baddens (deesdae Forever Resorts Warmbaths), wat deur dieselfde raad bestuur is as die destydse Blydepoort-, Eiland, Loskopdam, Rob Ferreira en Tshipise-vakansieoorde.

Die Pos het onlangs in ’n ou stoorkamer op ’n pamflet afgekom wat in 1977 deur Warmbad Mineral Baths uitgegee is.

Luidens dié pamflet het altesame 260 000 mense die oord die vorige jaar besoek. Dit word beskryf as een van die gewildste vakansieoorde in die ou Transvaal. Die oord se verskeidenheid swembaddens, akkommodasie, sportgeriewe en aangrensende wildreservaat word in die pamflet besing. Die terapeutiese waarde van die minerale bronne word met die bestes ter wêreld vergelyk. Die inkopie-ervaring van die dorp Warmbad word ook in die pamflet besing.

Die tariewe van dié gewilde oord laat ’n mens egter besef hoe baie dinge intussen verander het.

’n Chalet vir vyf mense het R14,30 per dag gekos en ’n luukse familiewoonstel vir vier mense R9,80 per dag. Vir karavane en tente hoef besoekers slegs R2,10c vir die eerste twee mense op te gedok het. Dagbesoekers kon vir 20c (10c vir kinders) ingegaan en die dag in die oord baljaar het.

Wie weet? Dalk is dit tyd dat die Sonskyndorp weer ’n aktiewe sakeforum op die been bring wat, in samewerking met die munisipaliteit en vakansieoorde, kan sorg dat Bela-Bela weer die glorieryke vakansiedorp word wat dit eens op ’n tyd was.

Related Articles

Back to top button