Local newsNews

Bela-Bela se Hervormde Kerk kry nuwe leraar

Van Tonder het vertel dat hy in 2013 bekendheid verwerf het nadat hy 49 mense wat oor die jare in die Vaaldriehoek-omgewing vermoor is, se begrafnisse waargeneem het.

Die Hervormde Kerk in Bela-Bela het vir ds. Neels van Tonder as hul nuwe leraar verwelkom.

Van Tonder is reeds tuis in die dorp en het op Sondag 7 Oktober sy intreepreek gelewer.

Hy het aan Die Pos gesê hy kom oorspronklik van Kroonstad.

Hy het voor sy studies sy diensplig by die Suid-Afrikaanse Weermag in die Staatspresidentswag en toe by 1 Valskermbatiljon voltooi.

Hy het vyf grade, waarvan twee meestersgrade, deur die Universiteit van Pretoria (Tuks) en Unisa voltooi.

Die grade sluit onder meer studies in Semitiese tale wat Akadies, Egipties, Hebreeus, Grieks, Latyn en Ou Testamentiese teologie insluit.

Hy het deur die jare gemeentes in Nigel, Oos-Londen, Vereeniging en Buffelspoort (Marikana) bedien voordat hy na Bela-Bela gekom het. Hy het ook altesame 15 boeke die lig laat sien en lewer al vir vier jaar elke Sondag om 07:30 radiopraatjies op Pretoria FM oor Bybelse argeologie.

Sy intreepreek se tema was: Het jy vandag jou ‘tsitsit’ aan?

“’n Tsisit is die toue wat die Jode onder hulle klere gedra het om hulle aan God te herinner en as ’n mens dit verwyder of afsny, word die persoon basies uit die gemeenskap geskuif. Ek het gepreek dat mense die Christelike tsitsit moet aantrek sodat hulle lewendig, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam moet wees,” het Van Tonder gesê.

Dit is sy doel as nuwe leraar om kerkgangers weekliks met iets interessants te bemoedig en hulle te lei om beter mense te word — veral omdat hy ’n ywerige sportman is.

“Ek het destyds my eie atletiekklub, die Rentmeester Tuks Vaaldriehoekklub bestuur, wat ongeveer 17 Suid-Afrikaanse kampioene opgelewer het. Ek was ook ’n provinsiale hokkieafrigter en skeidsregter,” het hy vertel.

“Sport is ’n manier om jou persoonlikheid te ontwikkel; dit verg dissipline, toewyding en motivering. Dit is my passie om vaardighede vir mense aan te leer deur hulle op ’n godsdienstige manier af te rig om vorentoe te beweeg.”

Van Tonder het vertel dat hy in 2013 bekendheid verwerf het nadat hy 49 mense wat oor die jare in die Vaaldriehoek-omgewing vermoor is, se begrafnisse waargeneem het.

“Ons as Afrikaners het baie moedeloos geword omdat ons deur die jare ontmagtig is. Daarom kritiseer hulle baie maklik en het die proses om op te bou, verleer,” het hy gesê.

“Ons moet weer leer, al gaan daar uitdagings wees, om te bou en ’n aktiewe bydrae te maak. En dit leer ’n mens by die kerk.”

Van Tonder het twee kinders, Danelle en Nelius. Danelle woon in Ierland en Nelius in Pretoria.

Van Tonder trou in November met Anél Brits, ’n finansiële direkteur, wat later by hom in die dorp sal aansluit.

Related Articles

Back to top button