Local newsNews

Groot opwinding oor uile in Modimolle-woonbuurt

Die reuseooruil is die derde grootste uil ter wêreld.

Geesdriftige voëlkykers is die afgelope week verras toe hulle ’n reuseooruil in ’n woonbuurt in Modimolle raakgesien het.

“Ek was by my seun se huis toe ek snorkgeluide buite hoor. Ek het gewonder wat dit was en het onthou dat ek gelees het dat reuseooruile sulke geluide maak,” het Wessel van Wyk aan Die Pos gesê.

“Ek was baie opgewonde toe ek die mannetjie bo in ’n apiesdoringboom gewaar, want dit is nie ’n gesig wat ’n mens gereeld sien nie.”

Hy het die wyfie wat op die nes sit ’n paar dae later opgespoor.

Hy het vir dr. Mich Veldman, ’n geesdriftige voëlkyker van die dorp, nadergehark en dié kon ’n mooi foto van die paar in ’n boom neem.

“Volgens Veldman is dit sover hy weet die eerste keer dat ’n broeipaar hier opgeteken word.”

Van Wyk het gesê hy verkies dat Die Pos nie presies sê waar dié uile is nie, om te verhoed dat hulle onnodig versteur word.

Die reuseooruil, ook bekend as Verreaux se uil, is volgens die webwerf Owl Worlds die derde grootste uil ter wêreld naas die Eurasiese ooruil en Blakiston se visuil en is die grootste uil in Afrika. Die uile is sowat 60 cm hoog as volwassenes en hul vlerkspan 140 cm wyd.

Die uile is verskeie skakerings van bruin met die bors en dele van die gesig wat roomkleurig is. Die pienk ooglede is ’n kenmerkende eienskap.

Die uile kom wydverspreid in sub-Sahara-Afrika voor, volgens Owl Worlds. Hulle verkies hoë bome en hul snorkgeluide word dikwels verwar met dié van ander diere.

Omdat hulle so groot is, vang hulle ook groter prooi as ander uile. Hul dieet sluit diere in soos hase, duiwe, muishonde en kleiner wild.

Die uile se broeiseisoen duur van Maart tot September. Hulle lê gewoonlik twee eiers wat sowat 28 dae neem voordat dit uitbroei. Meestal oorleef net een kuiken. Dié kan van nege weke af begin vlieg, maar bly dikwels nog sowat drie weke in die nes voordat hulle die wêreld gaan verken.

Related Articles

Back to top button