Local newsNews

Duisende hektaar in brande verwoes

Boere se brandpaaie is nie voldoende nie, wat ’n groot probleem is.

Verwoestende veldbrande het van 15-20 September tussen 4 000 en 5 000 hektaar landbougrond rondom Mookgophong en tot by Roedtan verteer, asook ’n plaashuis en ander eiendom verwoes.

’n Groot gedeelte van die Nylsvley-natuurbewaringsgebied het ook in die slag gebly.

 

Henneman en Rika Grobbelaar se huis het heeltemal afgebrand tydens die erge brande wat van 15-20 September in die Mookgophong- en Roedtan-omgewing gewoed het.

 

Volgens Ockert Scherman, voorsitter van die Distrikslandbou-unie se brandvereniging, is drie spanne ontplooi om te help om die brande te blus. Die sterk wind wat gewaai het, het egter die taak erg bemoeilik.

Sowat 20 boere met hul toegeruste brandblussers het onverpoos gehelp om brandpaaie te maak in ’n poging om die brand te stuit. Boere moes op talle plekke hul grensdrade knip sodat diere voor die vlamme kon vlug.

Scherman het aan Die Pos gesê dat boere se brandpaaie nie voldoende is nie, wat ’n groot probleem is. Hy het ook gesê talle boere het nie hul ledegeld betaal nie, woon nie vergaderings by nie en is nie voorbereid op wegholbrande nie.

’n Plaashuis, twee rondawels en ’n skuur is op verskillende plase in die brand verwoes. Die oorsaak van die brande is nie bekend nie. Een van die brande het volgens Scherman vermoedelik onder ’n kraglyn op ’n buurplaas naby Inus Smit ontstaan en die ander een by Fumani Lodge langs die R101 op die Boekenhout-pad.

’n Rondawel en ’n gedeelte van Maria Cigana se huis het ook afgebrand.

Rika en Henneman Grobbelaar se plaashuis en ’n woonstel van sy ma het heeltemal afgebrand. Grobbelaar het aan Die Pos vertel dat hy alleen by die huis was en dat die vlamme só geweldig vinnig deur die wind aangedryf is, dat hy nie eens kans kon kry om sy skootrekenaar toe te maak voordat die vlamme die grasdakhuis verswelg het nie.

Hy kon net betyds na ’n skuur vlug waar hy kon skuil.

“My ma is ’n rukkie gelede ouetehuis toe en ek is net dankbaar, want sy is 80 jaar oud en ek sou haar nie uit die woonstel kon kry nie,” het hy gesê.

Rika was by die werk en het haar handsak en die klere aan haar lyf oor. Selfs die gewere en haar juwele in die kluis is gesmelt. Niks kon voor die vlammehel gered word nie, het hy gesê.

In die Roedtan-omgewing het die Leskoka Thabang Lodge afgebrand nadat ’n veldbrand van Mokopane se kant af oor die pad gespring het, het Scherman gesê.

Hy het almal bedank wat gehelp het en gesê dat die samewerking uitstekend was.

Related Articles

Back to top button