Local newsNews

Op 89 bestuur dié inwoner nog graag motor

Sy was egter “’n bietjie benoud” om die oogtoets af te lê.

Moenie vir Hannatjie Kruger (89) van Mookgophong kom sê bejaardes moenie meer motor bestuur nie.

Kruger woon al 16 jaar in Mookgophong en vier op 27 November haar 90ste verjaarsdag.

Sy het ’n baie goeie geheue en het onlangs haar rybewys laat hernu. Haar rybewys verval op 25 Septem-ber vanjaar, maar Kruger het al geruime tyd gedreig om dit te gaan hernu. Sy was egter “’n bietjie benoud” om die oogtoets af te lê.

Elarda Wondergem, ’n vriendin, het die afspraak namens haar gemaak en haar vergesel om die nodige foto’s te neem. Daarna was die ys gebreek en toe is dit lisensie-kantoor toe.

“Daar was nie tyd vir skrik nie,” vertel sy laggend.

Sy het die toetse afgehandel en is meegedeel dat haar aansoek goedgekeur is. Nou wag sy net vir die boodskap dat sy haar nuwe rybewyskaart kan gaan afhaal.

Kruger is in 1928 in Groblersdal gebore en het daar grootgeword, skoolgegaan en ook daar begin werk. Sy het met Piet Kruger van Mooinooi getrou. Hulle het 20 jaar lank op die plaas in die omgewing gewoon voordat hulle weer teruggetrek het Groblersdal toe. “Ek het my hele lewe lank op die plaas gewoon tot ek hiernatoe getrek het,” het sy aan Die Pos vertel.

Kruger het haar rybewys vir die eerste keer in 1960 in Mooinooi gekry en het nog nooit ’n boete vir enige verkeersoortreding gekry nie, het sy gesê. Sy het wel een maal verkeerdelik ’n “boete” gekry vir ’n spoedoortreding met ’n trekker in Pretoria. Dié misverstand is egter gou uit die weg geruim en was vir baie jare ’n groot grap in die familie.

Kruger is versot op blokkiesraaisels invul en lees graag Dick Francis-boeke. Sy het vyf kinders — een dogter en vier seuns — waarvan drie seuns reeds oorlede is. Twee van haar skoondogters kuier klokslag die eerste Saterdag van die maand vir haar en bring dan eetgoed vir die groot kuier. Sy is baie trots op haar tien kleindogters en drie kleinseuns.

Related Articles

Back to top button