Local newsNews

Gru-busongeluk op N1-snelweg eis 11 lewens

11 Passasiers is op die toneel dood verklaar en die beseerdes, twee kritiek, nege ernstig en 30 minder ernstig, is gestabiliseer.

’n Bus met 55 passasiers wat vanaf Zambië na Gauteng onderweg was, het op Maan-dagoggend 17 September op die N1-snelweg naby Mookgophong omgeslaan.

Luidens ’n mediaverklaring van die departement van vervoer in Limpopo is 11 passasiers op die toneel dood verklaar en die beseerdes, twee kritiek, nege ernstig en 30 minder ernstig, is gestabiliseer en toe na die Voortrekker-hospitaal in Mokopane geneem.

Arrie Opperman, verkeershoof van Mookgophong, was geskok toe hy ’n oproep ontvang het met die nuus dat die bus net buite die dorp omgeslaan het.

Die ongeluk het, volgens Opperman, ongeveer 10 km buite Mookgophong naby Tobias plaasgevind. Die Scania-bus het na verneem word omgeslaan nadat ’n band gebars en die bestuurder daarna beheer oor die bus verloor het. “Die bus het ’n sleepwa gesleep wat ook veroorsaak het dat die bestuurder nie die bus kon beheer nie,” het Opperman gesê.

Hy het aan Die Pos gesê ’n motorryer het hom gebel waarna hy dadelik alle nooddienste en die brandweer geskakel het. Die provinsiale en Mookgophong-polisie was gou op die toneel om bystand te bied. Opperman moes egter ’n vergadering in Modimolle bywoon en kon net ’n rukkie op die ongelukstoneel vertoef.

Makoma Makhurupetje, LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid in Limpopo, het haar medelye en skok oor die gru-ongeluk uitgespreek. Die Zambiese hoë kommissaris in Suid-Afrika, Emmanuel Mwamba, is deur die LUR vir gesondheid, dr. Phophi Ramathuba, by die Voortrekker-hospitaal ontvang waar hy die Zambiese burgers wat beseer is, besoek het.

Volgens kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale mediawoordvoerder van die polisie in Limpopo, is die polisie in Mookgophong besig met ’n ondersoek om die oorsaak van die ongeluk te bepaal. Die N1 was vir vier uur gesluit vir verkeer sodat opruimings-werk gedoen kon word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button