Local newsNews

Bela-Bela kry nuwe tegniese hoof

Die Bela-Bela-munisipaliteit het uiteindelik weer ’n voltydse hoof van tegniese dienste by die munisipaliteit aangestel.

Hlekane Betty Maswanganyi het amptelik op Maandag 3 September die leisels van Thomas Philane, waarnemende hoof, oorgeneem. Risimati Ntekele was voor hom die voltydse hoof, maar het vroeër vanjaar bedank.

Maswanganyi kom oorspronklik van Malamulele in die Vhembe-distrik in Limpopo. Sy is getroud en is 35 jaar oud, het sy aan Die Pos gesê.

Sy het ’n Btech-kwalifikasie in siviele ingenieurswese, asook ’n kwalifikasie in vervoeringenieurswese wat sy aan die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie behaal het, het sy gesê.

Haar ander kwalifikasies sluit ’n projekbestuursertifikaat in wat sy vroeër aan die Universiteit van Pretoria voltooi het.

Sy het vertel dat haar loopbaan by die Bigen Africa-ingenieursfirma begin het waar sy as konsultant gewerk het.

Sy was later deel van die Blouberg-munisipaliteit se projekbestuurseenheid en is later as die tegniese direkteur daar aangestel. Haar ander loopbaanskuiwe sluit die Lepelle Nkumpi-munisipaliteit en die Matjhabeng-munisipaliteit in Limpopo in, waar sy onderskeidelik die uitvoerende bestuurder van infrastruktuur en die uitvoerende direkteur van infrastruktuur was, het sy gesê.

“Bela-Bela is bekend as ’n gewilde toerismedorp en ek sal hard werk om veral die paaie in die omgewing vir inwoners en besoekers te herstel en te sorg dat volhoubare dienste aan inwoners gelewer word,” het sy gesê.

“As tegniese hoof van die Bela-Bela-munisipaliteit sal ek ook seker maak dat daar minder waterverliese plaasvind aangesien water deesdae ’n beperkte bron is.

“As ons water verloor, verloor die dorp geld.”

Related Articles

Back to top button