Local newsNews

Vliegveldprojek struikel ná ‘botsing van belange’

“Die reëls en regulasies bepaal dat geen sake met die regering sonder goedkeuring mag plaasvind nie.”

Planne om die Bela-Bela-vliegveld op te gradeer het oor ’n hekkie gestruikel nadat dit tydens die Bela-Bela-munisipaliteit se inligtingsessie einde Augustus aan die lig gekom het dat daar glo ’n “botsing van belange” met dié projek is.

Dit het glo te doen met ’n regeringsamptenaar wie se maatskappy op die lys van betrokkenes was om die vliegveld op te gradeer. Sy vrou is volgens die DA ’n amptenaar by die Bela-Bela-munisipaliteit.

Die amptenaar wat by die projek betrokke wou raak, werk na verneem word by die Waterberg-distriksmunisipaliteit. Die amptenare se identiteite is aan Die Pos bekend.

Die onderneming wat die vliegveldaansoek ingedien het, is Credovision CC, wat as Eagle’s Paradise sake doen. Hulle het vroeër aan Die Pos gesê hul doel is om die grond by die vliegveld, wat aan die Bela-Bela-munisipaliteit behoort, by die munisipaliteit te huur en die vliegveld te bedryf. Die aansoek is in Januarie ingedien.

Die Pos het vroeër berig indien die kontrak goedgekeur word, sou Eagle’s Paradise toesien dat ’n vliegskool tot stand kom en ’n instandhoudingsaanleg vir vliegtuie gebou word. ’n Brandstofaanleg sou ook gebou word vir 138 000 liter Avgas-, 138 000 L Jet A1-, 138 000 L diesel- en 76 000 L paraffientenks.

Die ooreenkoms het verder aangedui dat die onderneming die aanloopbaan sal herstel en die vliegveld se omheining opknap ingevolge die bepalings in die munisipale verslag oor die vliegveld wat Die Pos onder oë gehad het.

Die munisipale raad het egter vroeër vanjaar bepaal dat Eagle’s Paradise nie aan die gemeenskap brandstof mag verkoop nie.

Frans Mothokwa, DA-raadslid wat tydens die Augustus-inligtingsessie teenwoordig was, het by navraag gesê hy het die finale dokument deurgegaan en gesien dat daar ’n botsing van belange is.

Aangesien dit nooit bekendgemaak of verklaar is dat een van die betrokkenes vir die regering werk nie, het ’n botsing van belange ontstaan en die raad het besluit dat die projek tydelik opsygesit word, het Mothokwa gesê.

Tinus Ras, DA-raadslid en koukusleier, het gesê hy was van die begin af nie teen die projek gekant nie, op voorwaarde dat dit tot voordeel van die gemeenskap sou strek.

“Die reëls en regulasies bepaal dat geen sake met die regering sonder goedkeuring mag plaasvind nie,” het Ras gesê.

In reaksie hierop het Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, gesê die aansoek is nié gekanselleer nie.

“Ons kan bevestig dat die botsing van belange “reggestel” is. Die munisipale raad het besluit om die amptenaar se onder-neming van die projek te verwyder nadat dit aan die lig gekom het dat die amptenaar vir die regering werk,” het Mosito gesê. “Die munisipaliteit het bepaal dat die grond uitverhuur moet word sodat die munisipaliteit ’n inkomste kan genereer. Daarom moet alle persone wat die vliegveld gebruik, ’n huurooreenkoms met die munisipaliteit aangaan.”

Die ooreenkomste geld nie net vir die aansoeker, Eagle’s Paradise, nie, maar vir alle persone wat die grond gebruik. Sou die persone dit nie doen nie, kan hulle ontruim word, het Mosito gesê.

Die huurooreenkoms van Eagle’s Paradise is in sy finale afrondingsfase, het Mosito gesê.

Related Articles

Back to top button