Local newsNews

Pasiënt kla oor toestande by F.H. Odendaal-hospitaal in Modimolle

“Dit is ’n skande dat ’n hospitaal waarvan so baie mense afhanklik is, in so ’n toestand is.”

’n Hospitaal word geassosieer met higiëne en orde.

Dit, sê ’n ontstelde inwoner van Modimolle, is egter nie die geval by die F.H. Odendaal-hospitaal in Modimolle nie.

Foto’s van haar onlangse besoek aan die hospitaal wys ’n stukkende kraan wat met ’n vuil verband “reggemaak” is, stowwerige vensterbanke, toiletpapier wat in die bad lê, vuil toilette, gebreekte glasdeure en rommel wat besoekers vanaf die parkering na die hospitaal begelei.

“Ek sien op teen elke besoek aan die hospitaal. Die personeel is ongeskik en laat die mense ure lank onnodig wag. As ’n mens durf kla, raak hulle aggressief. Hulle is traag om pasiënte te help en staan eerder met mekaar en gesels. Dit is ’n skande dat ’n hospitaal waarvan so baie mense afhanklik is, in so ’n toestand is,” het sy gesê.

Solomon Maphologela van die hospitaal se kommunikasie-afdeling het by navraag gevra dat inwoners liefs hul klagtes op skrif sit.

“Moet asseblief nie by die verpleegpersoneel kla nie. Lê klagtes deur die regte kanale sodat ons dit kan ondersoek. Ons wil graag weet presies waar is die probleme. Indien die personeel ongeskik is, vra ons dat pasiënte hul name kry en dit aanmeld sodat ons hulle kan aanspreek,” het hy gesê.

Maphologela het gesê dat die gebreekte glasdeur reeds op hul lys is om te herstel. “Ons besef dat dit gevaarlik is en ’n prioriteit is om te herstel,” het hy gesê. Hy het ontevrede pasiënte genooi om na sy kantoor te kom indien hulle klagtes het.

Related Articles

Back to top button