Local newsNews

Nuwe rehabilitasiesentrum vir roofvoëls open sy deure

Om plaagdiere op korttermyn met gif te probeer doodmaak, is nie die beste oplossing vir boere nie.

’n Nuwe rehabilitasiesentrum, die Wild Raptor Conservancy, is twee maande gelede op die Zebula-gholflandgoed en spa buite Bela-Bela geopen en die sentrum het reeds 11 roofvoëls wat hulle versorg.

Ruan Botha, stigter van die rehabilitasiesentrum, het gesê om plaagdiere op korttermyn met gif te probeer doodmaak, is nie die beste oplossing vir boere nie omdat dit ook roofvoëls wat plaagbeheer toepas in die proses kan doodmaak.

Die 11 roofvoëls wat by die sentrum verwelkom is, bestaan uit agt spesies. Die sentrum neem enige roofvoëlsoorte in, van aasvoëls tot arende, valke, uile, sperwers en sekretarisvoëls, het Botha gesê.

Hy en sy kollegas wat die sentrum bestuur, het gesamentlik 53 jaar se bewaringsondervinding, veral met roofvoëls.

Hulle is gewillig om by ander kenners en bewaringsentrums in die omgewing te leer.

“My eerste reël is dat geen voël vir langer as twee jaar by die rehabilitasiesentrum mag bly nie, want hulle bly wilde voëls wat moet teruggaan na die natuur,” het hy gesê. “Daar is ongelukkig geen twyfel dat die voëlbevolking afgeneem het nie.”

Die sentrum se doel is om voëlgetalle deur hul rehabilitasieprogram te laat toeneem.

Botha het gesê die afname gebeur meestal weens ’n gebrek aan kos en die vernietiging van ekostelsels.

Botha het voor sy terugkeer na Suid-Afrika in Saoedi-Arabië gewerk, waar hy ’n roofvoëlsentrum bestuur het om probleemdiere te verminder deur valke te gebruik. Hy is tans ’n komiteelid van die Limpopo Falconry Club, wat met die Suid-Afrikaanse Valke-vereniging geaffilieer is.

“Sou boere in ons omgewing oorweeg om jakkalse, muise en rotte met gif te probeer doodmaak, sal ek aanbied om gratis te help om roofvoëls binne hulle plase vry te laat.”

Sy raad aan boere met oeste is om hoë pale op die plase op te rig sodat die roofvoëls ’n plek het om op te sit en te jag vir plaagdiere. Dit help dat wilde roofvoëls nie net oor die plaas sal vlieg omdat daar geen plek vir hulle is om te sit voordat hulle jag nie, het hy gesê.

“Plaagdiere wat gif inkry, laat dit vir die roofvoël lyk soos maklike kos omdat hulle nie weet wanneer hulle weer kos gaan kry nie,” het Botha gesê.
“Mense wat op beseerde of vergiftigde voëls afkom, moet die voël eerder na ’n plaaslike dierekliniek neem waarna ons die voël sal kom haal en verder sal versorg,” het hy gesê.

Botha se sentrum lok reeds talle nuuskieriges en toegangsfooie wat gevra word, word gebruik vir bedryfskostes.

“Ek was ses jaar oud toe ek my eerste valk vasgehou het en nadat ek lank oorsee was, het ek veral die Bosveld baie gemis. Ek wil die kinders wat na die gerehabiliteerde voëls kom kyk, leer waaroor bearing gaan, want met mentorskap en aanhoudende bewusmaking sal hulle eendag in my posisie kan staan en ander leer dat bewaring uiters belangrik is.”

Dit is vir hom en sy kollegas belangrik dat mense in die omgewing saam moet werk tot voordeel van die diere en natuur.

Belangstellendes kan gerus die sentrum op Zebula op die R516-pad buite Bela-Bela besoek en aan die interaksieprogramme deelneem.

Mense kan ook vir Botha e-pos stuur na ruan@wildraptor.co.za vir meer inligting.

Related Articles

Back to top button