Local newsNews

Die see wink vir dié kinders

“Daar is tot eetgoed en lekkers verkoop om fondse aan te vul met die gedagte aan ’n seevakansie as motivering,”

Koos Kombuis se lirieke van “Almal wil ’n huisie by die see hê” maal ook deur die koppe van die kinders by die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle.

“Lenie Maré, ’n vrywilliger van die Rooiberg-omgewing, het die behoefte raakgesien om aan dié kinders die geleentheid te gee om ’n seevakansie te beleef. Verskeie pogings word nou aangewend om die koste vir die vakansie te dek,” het Gerda van der Merwe, hoof van die kinderhuis, gesê.

Die Abraham Kriel-kinderhuis het 15 huise en elke huis moet self help om die geld in te samel. Die huis wat ’n bedrag van R15 000 kan insamel, kan tydens die Oktober-skoolvakansie Kleinmond toe gaan.

“’n Slaghuis in Bela-Bela het ’n vleispakket geskenk en lootjies word verkoop om geld in te samel. Die trekking van die lootjies sal op Dinsdag 25 September plaasvind. Sommige huise het ook eetgoed en lekkers verkoop om hul huis se fondse aan te vul met die gedagte aan ’n seevakansie as motivering,” het Van der Merwe gesê.

Die kinderhuis verskaf die kos en vervoer. Die enigste uitgawes is verblyf wat teen ’n verlaagde tarief aan die kinderhuis gegee word. Die brand-stofkoste vir 2 400 km moet ook betaal word. Die meeste aktiwiteite en uitstappies word deur ondernemings in Keinmond geborg.

Die aktiwiteite wat vir die kinders beplan word, sluit in kunsklasse, visvang, ’n natuurbewaringsuitstappie, kajak, ’n bootrit op die lieflike Keirivier, ’n piekniek, perdry op die strand, ’n besoek aan ’n skulp-museum en moontlik aan die fabriek van die grootste motorvervaardiger in Oos-Londen.

“Die koste beloop min of meer R1 000 per kind. Hoe meer geld ons insamel, hoe meer kinders kan see toe gaan,” het sy gesê.

Mense wat bydraes wil maak, kan Van der Merwe bel by tel. 082 410 2635.

Related Articles

Back to top button