Local newsNews

Rekeningskok nadat huurders verhuis

“Hoe gebeur dit dat ’n rekening so styg sonder dat daar enigsins aanmanings of oorhandigings is?”

’n Huiseienaar van Modimolle het ’n groot skok gekry toe haar huurders uitgetrek het en die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit haar verantwoordelik hou vir hul elektrisiteitsrekening van meer as R36 000.

Benewens die derduisende rande se skuld, sê Nonnie Pretorius dat die huurders ook baie skade aan haar huis aangerig het. Die munisipale rekening was op die huurders se naam.

“Ek wil net graag antwoorde hê. Hoe gebeur dit dat ’n rekening so styg sonder dat daar enigsins aanmanings of oorhandigings is? Ek het reeds groot skade aan my huis. Ek voel dit is nie ek wat daardie elektrisiteit verbruik het nie,” het sy gesê.

Marlene van Staden, burgemeester, het by navraag gesê huiseienaars bly volgens wet verantwoordelik vir munisipale rekenings van hul eiendom. “Die onus berus by die eienaar om seker te maak dat die rekeninge stiptelik betaal word, selfs al is daar huurders in die huis,” het sy gesê.

Corlia van der Merwe, ’n eiendomsagent in die dorp, het beaam dat verhuurders dikwels dié probleem ervaar. “Dit is hoekom dit so belangrik is dat verhuurders elke maand hul munisipale rekening nagaan. Vra die munisipaliteit om jou besonderhede ook op die rekening te sit, al is dit op die huurder se naam, sodat jy op hoogte bly,” is haar raad.

“Ons beveel mense aan om huurders se verwysings na te gaan, ’n kontrak op te stel en ’n deposito te betaal vóórdat hulle intrek.”

Sy het gesê indien die huurbedrag meer as ’n derde van die huurder se inkomste is, is daar dikwels probleme om dit te betaal. “Die enigste opsie vir dié huiseienaar is om met die munisipaliteit te onderhandel om die bedrag af te betaal en om die huurders te dagvaar.”

Pretorius het gesê dat sy die rekening by die munisipaliteit vereffen het sodat die kragtoevoer weer aangeskakel kan word. “Ek was by ’n prokureur en het die huurders gedagvaar, maar hulle het dit geïgnoreer,” het sy gesê. “Ek is baie bitter oor hierdie hele storie,” het sy gesê.

Related Articles

Back to top button