Local newsNews

Ondernemings herbou ná Waterfront-brand

Van die eienaars het aan Die Pos gesê hulle wil weer hul deure oopmaak, maar vir ander is die toekoms duister.

Sake-eienaars wat hul bron van inkomste weens die verwoestende brand by die Bela-Bela Waterfront op Vrydag 24 Augustus verloor het, is besig om die skade te probeer herstel herstel.

Die brand het die Vrydagaand net voor 23:00 uitgebreek en vinnig versprei. Altesame nege persele het tot op die grond afgebrand.

Die ondernemings wat afgebrand het, is Century 21, Waterfront Waffle & Pancake House, Waterfront Nursery & Animal Farm, Rodeo’s, Dental Studio, Jordan’s Hair & Nails, Ticky Box Collectables & Antiques, Golf Car SA en De Dekke-restaurant. Die Waterfront Doggy Spa en die nuwe Thai Spa het geringe skade opgedoen.

Volgens die Bela-Bela-polisie is hul forensiese afdeling besig om die oorsaak van die brand te ondersoek en sal hul ondersoek bepaal of daar enige kriminele klagte gelê word of nie. ’n Deel van die Waterfront het drie maande tevore ook afgebrand, en tóé het Fred van Heerden, eienaar van dié gewilde grasdakkompleks, aan Die Pos gesê hy vermoed die plek is aan die brand gesteek. Hy het ’n klag by die polisie gelê, maar dié ondersoek het nog niks opgelewer nie.

Sake-eienaars is nou — ná die laaste brand — besig om met hul versekeraars en werknemers oor die toekoms te onderhandel. Van die eienaars het aan Die Pos gesê hulle wil weer hul deure oopmaak, maar vir ander is die toekoms duister. Die groot behoefte onder die meeste sake-eienaars is werkgeleenthede vir die personeel.

Frans van Zyl, eienaar van De Dekke, het by navraag gesê die pad vorentoe vir hul personeel het anders uitgedraai as wat verwag is. Die algehele skade wat De Dekke gely het, is R3,5 miljoen — ’n bedrag wat nie deur die versekering gedek is nie, het hy gesê.

Volgens Van Zyl word onderhandelings tans slegs met die permanente personeellede gehou om hulle uit te betaal.

NJ van Heerden, eienaar van die Waterfront Waffle & Pancake House, Waterfront Nursery & Animal Farm, Waterfront Doggy Spa en die nuwe Thai Spa, het gesê: “Ons almal probeer om alternatiewe werkgeleenthede vir ons werkers te kry en is gereeld met hulle in gesprek oor hoe ons hulle kan akkommodeer,” het hy gesê. “Herstelwerk vorder goed by my ondernemings, maar dit gaan nog baie werk verg.”

Hy beoog om die Waffle House en Nursery & Animal Farm in een onderneming te omskep en om die deure eersdaags vir die publiek te open. Die Doggy Spa en Animal Farm sou na verwagting op Woensdag 5 September weer oop wees vir sake, het hy gesê.

“Ons is nog besig om die versekering uit te klaar, maar is dankbaar vir almal se ondersteuning.”

Fred het teen druktyd gesê hoewel die forensiese afdeling steeds besig is met hul ondersoek, is toestemming gelukkig verleen om die Animal Farm se skade op te ruim.
Century 21, wat langs Rodeo’s geleë was, het vir tyd en wyl na die suide van die Waterfront geskuif.

“Ons het baie hulp gekry van mense wat meubels vir die nuwe perseel geskenk het. Ons het ook die meeste inligting wat in die brand verlore was, teruggekry, maar daar is nog inligting uitstaande,” het Fred gesê. Hy het die gemeenskap bedank vir al hul hulp en die goeie gesindheid in dié moeilike tyd.

  • ’n Lofsanggeleentheid is vir Donderdag 6 September by die Waterfront gereël om inwoners en die mense wat geraak is, te bemoedig. Franna Benadé, bekende gospel-sanger, sal die lofsang lei.

Toegang is gratis en die verrigtinge begin om 19:00.

“Dit sal ’n goeie geleentheid vir die gemeenskap wees om bymekaar te kom en ons nooi almal uit om daar te wees,” het NJ gesê.

  • NJ het kort ná die brand ’n fonds gestig om die mense wat hul werk deur die brand verloor het, te ondersteun. Om by te dra of vir navrae daaroor, bel vir NJ by tel. 082 888 3336 of vir Jenny Momberg by tel. 073 895 2843.

Related Articles

Back to top button