Local newsNews

Jonges van Modimolle onder mooistes

Twee jongmense van Modimolle is in die kollig nadat hulle van die gunstelinge in die Sarie Voorbladgesig- en Mnr. Suid-Afrika-kompetisies is.

Die 21-jarige Suné Potgieter is een van die 10 finaliste in die Sarie Voorbladgesig-kompetisie. Dié aantreklike donkerkop het in Modimolle grootgeword en aan Hoërskool Nylstroom gematrikuleer. Sy is tans ’n debiteureklerk by ’n familie-onderneming in Pretoria.

“Ek het nie eintlik beplan om in te skryf nie, maar ’n vriendin, Izobel van der Walt, het my twee dae voor die sluitingsdatum omgepraat om ’n foto in te stuur. Sy motiveer my altyd om aan sulke goed deel te neem. Ek het toe maar besluit om dit te doen. Dit is mos net foto’s wat ’n mens instuur, geen ‘big deal’ nie,” het sy gesê.

Potgieter het gesê die toptienfinaliste het in Julie vir ’n week bymekaar gekom waar hulle aan die Sarie Voorbladgesig-reeks, wat nou elke Dinsdag om 17:30 op kykNET wys, gewerk het. Hulle het elke dag gesellighede bygewoon en aan aktiwiteite deelgeneem.

“Dit was ’n wonderlike ervaring. Ons het baie mense in die industrie ontmoet. Dit was wel baie uitputtend en verg baie harder werk as wat dit op die oog af lyk met baie lang ure. Ek het nogal ’n ander indruk van die industrie gekry, want dit is ure en ure se werk vir ’n kort 20 minute episode. Dit was beslis ’n eens in ’n leeftydervaring.”

Die wenner van dié kompetisie word einde September aangekondig.

Hanno Eysell (21) is een van die 38 deelnemers aan die Mnr. Suid-Afrika-kompetisie. Hy is ook ’n boorling van dié dorp en was saam met Potgieter op skool.

Deelnemers aan dié kompetisie kry elke maand ’n uitdaging om te voltooi.

“Die uitdagings wissel van bemarkingsopdragte tot liefdadigheidsprojekte,” het Eysell gesê.

Een van hul projekte is om by die Steve Biko-hospitaal in Pretoria ondersteuning te gee aan vroue en kinders wat mishandel is. Eysell het ook ’n projek “Put a smile on a face” by laerskole in Phagameng aangepak.

Die wenner van die kompetisie word op Sondag 31 Maart 2019 in Kaapstad aangewys.

“Buiten Mnr. Suid-Afrika en sy eerste en tweede prins, word daar ook ’n Mr. SA People’s Choice gekies. Die publiek kan vir hul gunstelingdeelnemer stem op die webwerf www.anewmrsa.co.za(,)” het hy gesê.

Eysell se Bushveld Accommodations doen bemarking vir gastehuise en lodges in die omgewing.

“Ek wou sedert ’n voormalige Mnr. SA ons een keer by die skool besoek het, aan dié kompetisie deelneem. Hy was baie inspirerend. Ek wil nie ’n mansmodel wees nie, maar eerder ’n modelman,” het Eysell gesê.

Related Articles

Back to top button