Local newsNews

ANC ondersteun nie grondgrype, sê Mabuza

“Ons kan onsself nie uit die moeilikheid onteien nie. Ons moet onsself eerder daaruit ontwikkel.”

Die belangrike grondberaad wat op Donderdag 23 Augustus en Vrydag 24 Augustus buite Bela-Bela gehou is, het tot in die buiteland belangstelling gelok.

Beleggersvertroue in die land het drasties gedaal sedert die regering besluit het om art. 25 van die Grondwet te hersien sodat grond wat in openbare belang is sonder vergoeding onteien mag word.

David Mabuza, adjunkpresident van Suid-Afrika, aan die woord tydens AgriSA se grondberaad buite Bela-Bela.

Die parlementêre hersieningskomitee sal op Vrydag 28 September sy finale aanbeveling of die wet verander moet word of nie in die parlement aankondig.

Dit volg ná afloop van talle openbare vergaderings waar gemeenskappe en rolspelers in elke provinsie kommentaar op die voorstel gelewer het.

Talle grondeienaars en veral boere voel egter sterk daaroor dat die werklike probleme, in samewerking met die regering, vreedsaam opgelos kan word.

David Mabuza, adjunkpresident en voorsitter van die inter-ministeriële komitee oor grondhervorming, en Maite Nkoana-Mashabane, minister van plaaslike ontwikkeling en grondhervorming, het ook die Bela-Bela-beraad bygewoon.

Dan Kriek, president van Agri SA, het tydens die beraad gesê die pas waarteen grondhervorming tot dusver plaasgevind het, is uiters swak. Hy het voorts gesê dat Suid-Afrika se politieke verlede ’n baie negatiewe uitwerking op nieblankes se leefwyse gehad het en dat dit reggestel moet word.

’n Donker prentjie is tydens die beraad oor Suid-Afrika geskets wat betref beleggersvertroue, armoede en werkloosheid.

“Ons kan onsself nie uit die moeilikheid onteien nie. Ons moet onsself eerder daaruit ontwikkel,” het Kriek gesê.

“Daarom ryk ons ’n hand na die regering en onderneem dat ons, as die landbousektor, met vrymoedigheid die verantwoordelikheid sal neem om oplossings te vind.”

Mabuza het erken dat die ekonomie verswak het en dat werkloosheid, ongelykheid en onwettige grondgrype toegeneem het.

“Hierdie land behoort aan almal — swart en wit,” het Mabuza gesê.

“As die ANC ondersteun ons glad nie onwettige grondgrype nie en ons sal hierdie probleem stopsit. Die behoefte na grond bly egter ’n sensitiewe saak.”

Hy het voorts gesê dit sal vir mense wat in die verlede te na gekom is, verrykend wees om met die nodige bemagtiging toegang tot grond te hê. Dit sal ook vir die land verrykend wees.

“Dit gaan nie net bloot om grond te gee nie, maar om grond te gee waar daar ’n doel is. Die doel is om grond aan mense te gee wat die grond wil bewerk en om dit in iets produktiefs te omskep,” het hy gesê.

“Dit moet binne die raamwerk van die wet gedoen word.”

Mabuza het gesê die regering se eerste fokus is op regeringsgrond en regeringseiendom.

Landbougrond waarop daar nie geboer word nie, sal ook geoormerk word vir onteiening sodat mense dit produktief kan gebruik, het Mabuza gesê.

“Die regering is reeds in gesprek met myn-ondernemings om myngrond, wat nie meer in gebruik is nie, in landbougrond te omskep, het Mabuza gesê.

“Verder is R460 biljoen beskikbaar gestel om in landbou te belê.”

“Ons wil graag diegene wat die sensitiewe en emosionele kwessie van grond gebruik om valshede te versprei, ontmoedig omdat dit Suid-Afrikaners verdeel. Die vals aantygings dat wit boere die aanslag van hul eie regering in die gesig staar, moet ook vermy word, want dit is ver van die waarheid,” het Mabuza gesê.

“Ons almal het gesien wat in Zimbabwe plaasgevind het en het daaruit geleer. Die ANC waardeer die rol van die kommersiële boer, want boerdery is die ruggraat van die ekonomie.”

Mabuza het die boere wat oplossings gevind het om ’n nuwe generasie boere te kweek, geprys.

“Jou land het jou nodig. Vertrou jou regering, deel jou wysheid en weet dat ons almal die vermoë het om probleme op te los.”

Mabuza en sy afgevaardigdes het die vergadering ongeveer twee uur ná sy toespraak verlaat.

Boere en landbou-organisasies het tydens die twee dae hul oplossings vir die landbousektor met hul lede gedeel en hulle moed ingepraat om ’n kopskuif te maak ten gunste van ontwikkeling en bemagtiging van alle Suid-Afrikaners.

Related Articles

Back to top button