EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Kerkfees so reg uit ’n outydse sprokiesboek

Inwoners van Modimolle skud hul vere reg vir ’n heerlike kerkbasaar met ’n kinkel.

Die jaarlikse Dankofferfees van die NG Kerk Waterberg vind op Saterdag 25 Augustus plaas en bekende vermaak-likheidsterre soos Hansie en Grietjie, Rooikappie en Sneeuwitjie sal ook die dag teenwoordig wees.

Die gemeente verwelkom die warmer lenteweer tydens hul fees met die tema Sprokiesland.

Hansie en Grietjie sal die koek- en gebak-tafel beman en Jan se boontjierank groei neffens die koeldrankstalletjie. Rooikappie sal by die poedingtafel wees, want dit is moeilik om die lekkerste item vir ouma te kies. Sneeuwitjie en haar dwergies sal pannekoek bak dat die biesies bewe. En ja, die Wolf sal ook daar wees!

Heel gepas sal Rooikappie en die Drie Varkies vir lekker pap-en-kaiings sorg.

Bring die jongspan en kom soek na die ander karakters tussen die heerlike gekuier deur. Dumbo (snuffeltafel), Duimelina (plante-en-produkte) en die singende Lappop (veiling van alles en nog wat) is ook by die heerlike geleentheid betrokke.

Die Pirates of the Carribbean organiseer allerlei speletjies en springkastele en Robin Hood hanteer die skyfskiet en verfbal vir kinders, asook boogskiet vir volwassenes met drie rooibokke wat gewen kan word.

Alice is vanaf Wonderland op pad en sal help om die teetuin en deli te organiseer. Daar is baie sitplek in die skaduwee sodat almal kan deel in die program.

Die bekende Vasti van Pretoria is die gaskunstenaar en saam met haar is daar hip-hop-dansers, die Diamond Lyndansers van Bela-Blea, voorlesings en vertellings van sprokiesverhale.

Die gasheer en -vrou vir die dag is Skoonlief en die Ondier. Hulle nooi almal hartlik uit.

Die verrigtinge skop om 07:30 af met ’n dankdiens in die kerkgebou. Verkope by die verskillende stalletjies begin om 08:00.

Related Articles

Back to top button