Local newsNews

Afrika-rekord tydens Cruiser-fees opgestel

Daar is natuurlik ’n goeie rede waarom die Land Cruiser rebelle en militantegroepe se gunstelingryding is.

Daar is waarskynlik nie ’n motor met ’n beter reputasie vir langtermyn taaiheid, betroubaarheid en vermoë as Toyota se staatmaker nie.

Sondela-natuurreservaat net buite Bela-Bela het hierdie staatmakers van 17-18 Augustus verwelkom tydens die jaarlikse Land Cruiser-fees. Die fees het gegroei van verlede jaar se reeds indrukwekkende 434 Cruisers na 491 Cruisers en daar is dus sommer ’n Afrika-rekord opgestel.

Verskeie aktiwiteite is vir oud en jonk aangebied en veral Saterdag se program was stampvol. ’n Groot kinderarea het die jongspan besig gehou en gaskunstenaars het vermaak in die biertuin verskaf terwyl die manne oor bakkies gesels het. ’n Cruiser is gebou vir grondpad en daarom is ’n massarit ook deur die reservaat gehou.

Volgens Marius Opperman, organiseerder, was dit ’n absolute plesier om met die span van Sondela saam te werk. Opperman het almal bedank wat ’n bydrae tot die suksesvolle naweek gemaak het. Sonder almal se harde werk en die bydraes van borge sou dit nie moontlik gewees het nie, het hy gesê.

Die organiseerders beoog om aanstaande jaar nog meer Cruiser-entoesiaste bymekaar te kry wanneer die fees weer op Sondela aangebied word.

  • Buiteleweliefhebbers moet onthou dat die jaarlikse kykNET Buite-ekspo van 28-30 September by Sondela aangebied word.

Related Articles

Back to top button