Local newsNews

Verbyganger kom op Modimolle-inwoner se liggaam in veld af

“Ons gaan hom baie mis. Hy was ’n rustige mens en baie stil. Hy was bykans altyd by die huis,” het Anneline gesê.

Hartseer en bekommernis het die Walkinshaw-gesin van Modimolle die afgelope jaar bloots gery.

Die 44-jarige Johnny Walkinshaw, ’n jare lange inwoner van die dorp, is verlede Vrydagmiddag 10 Augustus onverwags oorlede nadat hy vermoedelik ’n hartaanval gehad het, het sy suster, Anneline Walkinshaw, gesê. Hy was ’n pensioentrekker nadat hy sy een been jare gelede verloor het. Hy het met krukke oor die weg gekom. Walkinshaw het saam met sy ma, Susan, en suster Anneline en haar twee seuns gewoon.

Die Walkinshaws ken hartseer. In 2007 is Walkinshaw se suster, Isabel (34), wreed vermoor. Sy was ’n motorwag in Modimolle en is een aand op pad terug huis toe oorval en die bosse ingesleep. Haar vernielde liggaam is die volgende oggend onder ’n brug gekry. Die skuldiges is nooit opgespoor nie.

“Ons gaan hom baie mis. Hy was ’n rustige mens en baie stil. Hy was bykans altyd by die huis,” het Anneline gesê.

’n Verbyganger het Walkinshaw se liggaam in die gras langs die dorpsdam naby die gevangenisdiens gekry en hulp ontbied, het AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, gesê. Dit was egter reeds te laat.

“’n Nadoodse ondersoek sal die oorsaak van sy dood bepaal,” het Findlay gesê.

Walkinshaw laat sy ma Susan Walkinshaw, susters Anneline en Alta Ahlers, en sy twee kinders Nikita en Jonathan Walkinshaw agter.

Hy word op Vrydagoggend 17 Augustus om 11:00 vanuit die Drie Eenheid-gemeente in Presidentstraat, Modimolle, begrawe.

Related Articles

Back to top button