Local newsNews

Dorp se rioolprobleem binnekort opgelos

“Die omvang van die besoedeling hou ’n groot gevaar vir die inwoners se gesondheid in.”

Die rioolprobleem in Mookgophong is vir baie inwoners wat in Uitbreiding 5 en 6 bly ’n nagmerrie.

Die Pos berig reeds sedert 2015 oor die toestand van die rioolpompstasie en die gesondheidsrisiko’s wat dit vir inwoners en die omgewing inhou.

Rouriool vloei in strome in die Nylrivier-gebied en maak dit moeilik om by die pompstasie uit te kom. ’n Munisipale amptenaar, wat anoniem wil bly, het aan Die Pos beweer dat die kontrakteur wat verantwoordelik is vir die leegpomp van die rioolwerke, nie die afgelope ses maande vir sy dienste betaal is nie en daarom het die oorloop van die riool ontstaan.

Burgemeester Marlene van Staden het by navraag aan Die Pos gesê sy, raadslid Hercules Louw en Thabang Selemela van die munisipaliteit se waterdepartement het op Dinsdag 14 Augustus ’n dringende vergadering gehou en besluit om dadelik aandag aan die probleem te skenk. Selemela het toestemming van Mapule Mokoko, munisipale bestuurder, verkry om drie kwotasies te kry om ’n groter pomp aan te koop sodat die riool van die pompstasie na die rioolaanleg gepomp kan word en ekstra suiweraars te kry om die water beter te suiwer voordat dit in die stelsel gaan. ’n Kontrakteur sal ook so gou moontlik aangestel word om die nuwe pomp te installeer.

Volgens Van Staden en Selemela is die kontrakteur wat glo nie betaal is nie, een van die twee projekte van die 2016/2017-begroting om die rioolaanleg op te gradeer wat weens wanbesteding van fondse nie uitgevoer is nie.

“Dit is een van die redes waarom ons so hard gedruk het om die forensiese span hier te kry sodat hierdie soort probleme uitgewys kan word en dat daar lig gewerp kan word oor die aanwending van munisipale fondse,” het Van Staden gesê.

Louw het in 2015 reeds verduidelik wat die probleem was en volgens hom sou dit opgelos word. Clifford Mokefane, destydse tegniese bestuurder van die munisipaliteit, sou ’n aanjaerpompstasie met ’n dieselkragopwekker installeer waar die opdraande pyp met ’n nuwe pyplyn vervang word. Die probleem was te wyte aan die vernouing van die inkomende rioolpyp by Uitbreiding 6 waar die pyplyn dunner raak en dan opdraande loop. Dié ingenieursfout het veroorsaak dat die pyp mettertyd verstop geraak het.

Volgens Philip van Staden, AfriForum-voorsitter in die dorp, het AfriForum op Maandag 13 Augustus ’n nuwe skrywe aan Mokoko gerig om die erns van die rioolbesoedeling onder haar aandag te bring. AfriForum het Mokoko ook versoek om ’n aksieplan voor te lê om die probleem op te los.

AfriForum het in Junie 2016 en weer in Januarie 2017 klagtes oor die rioolbesoedeling by die munisipaliteit gelê.

“Die omvang van die besoedeling hou ’n groot gevaar vir die inwoners se gesondheid in. Die hele gebied, asook die grondwater, word deur die riool besoedel,” het Van Staden gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button