LifestyleLocal newsNews

Hierdie kombuis se deure is altyd oop

Die reuk van geurige groentesop vul die vertrek terwyl Mariette Bam ’n hoender ontbeen.

Dié kos is bestem vir die leë mae van werkloses en straatmense in Modimolle.

Grace and Joy, soos die sopkomkuis heet, verskaf die afgelope maand twee dae ’n week ’n bord warm kos aan tussen 40 en 60 mense. Die hongeres wat opdaag is dikwels werkloses, motorwagte en mense wat op straat woon.

Bam het gesê die idee om etes aan honger mense te verskaf het een aand begin terwyl hulle om die tafel gekuier het. “Ek wou iets vir iemand beteken; ’n doel hê. ’n Vriend het gesê as ons so iets aanpak, sal hy ons help om voorraad aan te koop,” vertel sy. Haar man, André, en dogter, Tersia Gower, en haar man Robert, het ingespring om te help. Hoewel André in ’n rolstoel is, staan sy hande vir niks verkeerd nie en help hy met die verwerking van die groente.

Pasta met tamatiebredie met worsies in, groentesop en brood, hoenderkerrie met rys en wildsbredie met pap is op die spyskaart. Robert eet saam en maak seker die kos is lekker.

Die groep se kombuise tuis moet vir eers diens doen en hul yskaste is propvol.

“Ons probeer maar plan maak met dit wat ons het. Daar is ondernemings in die dorp wat oop hande en harte het en ons ongelooflik baie help met skenkings of afslagpryse.”

As ’n mens daarop let en mooi kyk, besef ’n mens hoeveel honger mense elke dag deur die dorp se strate loop.

Bam het vertel dat ’n man tydens een van die eerste etes kom vra het of hy die skottel-goed kan was en dan oorskietkos kan kry om vir sy kinders huis toe te neem.
Twee mans wat laat was vir die ete, het kom vra of hulle die aanbrandsel in die potte kan kry.

“Een van die mans het dankbaar kom sê dat hy nie kan onthou wanneer laas hy warm kos geëet het nie.”

Sy glo as iemand geëet het, sal hy minder geneig wees om te steel.

Stukwerkers betaal R5 vir ’n bord kos. “Van die mans het self besluit dat as hulle die dag werk het, kom eet hulle nie. Hulle verstaan dat dié kos vir die mense is wat niks anders het nie,” het Robert gesê.

Die sopkombuis se getalle neem weekliks toe. “Ons sal dankbaar wees as daar inwoners is wat wil help. Ons aanvaar nie geld nie, maar wel gewillige hande om te help kook en skenkings van kos,” het Bam ferm gesê. Sy vertel opgewonde van die sakke en sakke vol uie wat hulle ontvang het en kon uitdeel aan ’n ander sopkombuis.

In die nederige kombuis agter die Gowers se onderneming in Presidentstraat, woeker hulle met wat hulle het as hulle die kos uitdeel.

Dit is duidelik dat die regte toerusting die sopkombuis meer doeltreffend sal maak. Groot potte, ’n gasstoofstaander en gasbottels, ’n dubbelkoker, messe, vurke en lepels, plastiekborde- en koppies en ’n vrieskas om skenkings te berg, sal help om menige honger maag vol te kry.

Related Articles

Back to top button