Local newsNews

Man sterf ná hy homself vermoedelik aan die brand steek

’n Man het ’n boodskap op sy ma se selfoon gelaat en homself daarna vermoedelik aan die brand gesteek.

’n Man van Noodhulp buite Bela-Bela het vermoedelik vroeg Sondagoggend 5 Augustus sy eie lewe geneem deur homself aan die brand te steek.

Peter Wilson (53) het saam met sy ma, Dulcie (in haar negentigs), op Arno Jackson, ’n onderwyser van Jinnah Park Primary School, se eiendom gewoon. Wilson was lank werkloos en het volgens Diane Gazet du Chattelier, ’n familielid, na sy ma, wat weens haar gesondheid voltydse sorg nodig gehad het, omgesien.

Wilson was voorheen ’n loodgieter in Gauteng. Hy en sy ma het vir sewe maande op Jackson se eiendom gewoon, het Jackson gesê.

Wilson het sy ma volgens die Bela-Bela-polisie ongeveer 07:00 alleen by die huis gelaat en na die hoewe langsaan gestap. Hy het ’n boodskap op sy ma se selfoon gelaat en homself daarna vermoedelik teen die heining aan die brand gesteek.

Die bure het die oggend rook gesien trek en die polisie ontbied.

Die voorval het veral vir Jackson, wat die Wilsons vir lank geken en soms bygestaan het, diep geraak. Jackson het gesê Wilson was vermoedelik ’n depressielyer.

Gazet du Chattelier het in reaksie gesê sy is geskok. “Ek kan net dink wat dit aan sy ma moes doen,” het sy gesê.

Sy het gesê familie het Dulcie ná die voorval Pretoria toe geneem om vir haar die nodige sorg te probeer reël. Sy moes medikasie ontvang om haar kalm te hou, het Gazet du Chattelier gesê.

“Al wat almal nou kan doen, is om haar te ondersteun en liefde te gee. Peter het nie die maklikste lewe gehad nie, maar was altyd betroubaar en daar om na sy ma om te sien. Hy was ’n rustige siel en ons hoop dat hy nou rus en vrede het.”

Nog geen begrafnisreëlings is getref nie, maar die familie beplan om binnekort ’n gedenkdiens in Pretoria te reël, het Gazet du Chattelier gesê.

Related Articles

Back to top button