Local newsNews

Juffrou sprei vlerke ná 24 jaar

“Ek kry egter nou die kans om ná donkiejare se studies my kennis toe te pas en ’n verskil aan soveel kinders se lewens te maak.”

Daar is geen demper op Elda Thiart se kenmerkende borrelende energie en positiwiteit nie.

Ná meer as 24 jaar by Laerskool Nylstroom, sprei dié onderwyser haar vlerke na nuwe horisonne. Sy is deur die departement van onderwys as senior onderwysspesialis vir die Waterberg-distrik aangestel.

“Die aanstelling het só vinnig en onverwags gebeur. Ek was besig om reg te maak vir die nuwe skoolkwartaal, toe ek hoor ek moet die volgende oggend reeds by die distrikskantoor inval,” het sy gelag.

Sy sien uit na die nuwe seisoen in haar lewe, hoewel sy die leerders baie sal mis. “Ná soveel jare by die laerskool, is die kinders en onderwysers soos ’n mens se familie,” het sy gesê. “Ek kry egter nou die kans om ná donkiejare se studies my kennis toe te pas en ’n verskil aan soveel kinders se lewens te maak.”

Sy is besig met haar doktersgraad waarin sy die institusionele en kurrikulumverskille in onderwys tussen Suid-Afrika en Nederland ondersoek. “Ons onderwysstelsel het sy oorsprong in die Nederlandse onderwys. Hul onderwysstelsel is een van die bestes ter wêreld. Ek wil kyk na redes waarom ons van mekaar begin verskil het.”

Haar nuwe werk behels dat sy baie ure op die pad (in haar staatmaker roomkleurige Volkswagen Beatle) sal bestee. Sy besoek vier dae ’n week skole in die distrik vir monitering van wat in hul klaskamers aangaan.

Dié onderwysers kan nie vir ’n meer ervare hand om leiding vra nie. Thiart was die afgelope jare departementshoof vir die grondslagfase en het die ondersteuningsklas vir vroeë kinderontwikkeling behartig.

Sy het gesê dat sy Laerskool Nylstroom as ’n toonaangewende laerskool in Limpopo beskou wat hul kurrikulum betref. Haar gunstelingtyd as onderwyser is wanneer sy daardie glimlag in ’n kind se oë sien wanneer hy of sy iets snap. “As ’n mens eers ’n kind se seer raaksien, maak ’n mens groot vordering,” glo sy.

As ’n mens vra oor snaakse staaltjies uit haar jare van skoolhou, bars sy uit van die lag. Haar oë vonkel. “’n Meisie het eendag vir my ’n lewende vark gebring. Ons het hom Bacon gedoop. Bacon is saam met my huis toe waar hy en my worshond Karlientjie boesemvriende geword het.”

Sy is vasbeslote dat sy nie in laagtepunte glo nie. “’n Laagtepunt is net die begin van ’n nuwe punt — dit verskuif ’n mens se fokus. Minder lekker dae is ’n aansporing om more beter te vaar.”

“Sê tog asseblief vir die ouers en onderwysers in Modimolle dat ek so dankbaar is vir hulle. Ek het net lojaliteit en ondersteuning van hulle af ontvang,” het sy gesê voordat sy op haar horlosie gekyk en die laaste slukkie tee afgesluk het.

Die volgende vergadering wag.

Related Articles

Back to top button