Local newsNews

Inwoners skrik nadat skote klap

’n Inwoner se hond het volgens hom die aand in ’n palissadeheining vasgesit. Die skerp dele het die dier deurboor en hy het erg gely.

Bela-Bela-inwoners het in die vroeë oggendure van Donderdag 2 Augustus groot geskrik toe skote in Ludorfstraat afgevuur is.

Inwoners het aanvanklik vermoed dat ’n misdaad gepleeg is. Gerhard Olivier, spanleier van die Plaaslike reaksiespan (RSRT), het by navraag gesê twee boer-boele moes ongelukkig dié aand doodgeskiet word.

’n Inwoner se hond het volgens hom die aand in ’n palissadeheining vasgesit. Die skerp dele het die dier deurboor en hy het erg gely. Die ander hond het al om sy beseerde maat gemaal en albei diere was uiters aggressief.

Pogings is aangewend om die beseerde hond van die skerp heining af te haal, maar hy het sy eienaar gebyt, het Olivier gesê. Die honde wou niemand naby hulle toelaat nie en daar is besluit om hulle vankant te maak.

“Dit was tragies, maar dit was al wat gedoen kon word om die dier van sy lyding te verlos,” het Olivier gesê.

Volgens Piet Burger, eienaar van Galven-sekuriteit, wat ook op die toneel was, is die nodige toestemming vooraf verkry om skote in ’n beboude gebied af te vuur. Die eiendom grens aan Galven-sekuriteit.

Related Articles

Back to top button