Local newsNews

Magrietjies dankbaar vir groot skenking

Die vrywilligers ondersteun nie net kankerpasiënte nie, maar besoek die pasiënte gereeld.

André van Rensburg, bekende inwoner van Mookgophong, het sy mieliemeule tydens die Bokkieweek in Julie ingespan om meel te maal en te verkoop om só ’n bydrae tot die Magrietjie-kankerhulpgroep se geldsake te maak.

Die Bokkieweek is by Hoërskool Hans Strijdom aangebied. Van Rensburg het tydens die week R6 000 ingesamel wat aan dié vrywilligerorganisasie oorhandig is. Mees Neethling, Naas Muller en Willie van Schalkwyk, boere in die omgewing, het die mielies geskenk. “Ons is oneindig dankbaar vir die skenking,” het Marthie du Plessis, voorsitter van die Magrietjies, aan Die Pos gesê.

Die Magrietjies is vrywilligers in Mookgophong wat help met die versorging en ondersteuning van kankerpasiënte in die dorp en omgewing. Die groep het in 1994 onder leiding van verpleegsuster Tonny Oerlemans ontstaan. Hulle het in April 2000 weggebreek onder die beskerming van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) en funksioneer nou onder die beskerming van die Naboom Welsynsorganisasie vir Bejaardes. (NWOB). Die Magrietjies is heeltemal afhanklik van die gemeenskap en hierdie soort insamelings gee hulle ’n groot hupstoot.

Die vrywilligers ondersteun nie net kankerpasiënte nie, maar besoek die pasiënte gereeld en reis binne ’n radius van 25 km uit die dorp. Volgens Du Plessis word die skenkings gebruik om toerusting soos suurstofsilinders te vul en te diens. “Soms koop ons soveel as R15 000 se doeke vir volwassenes per maand. Ons onkoste is onder meer ’n skoonmaker en tuinier, motoronderhoud, brandstof en die telefoonrekening,” het sy gesê. Rolstoele moet ook soms vervang of herstel word.

Die kantoor word van 09:00-11:00 deur een van die 25 vrywilligers beman. Pasiënte kan dan gaan haal wat hulle nodig het. Hulle ontvang op Donderdae medikasie by die Magrietjies se apteker, Dirk du Plooy.

Twee susters, Marthie du Plessis en Jeanne Brooks, is 24 uur beskikbaar indien pasiënte hulle nodig het en vyf susters werk Donderdae by die kliniek om almal by te staan.

Die “engele” doen selfs inkopies vir pasiënte en help hul geliefdes om tyd aan hul eie versorging te bestee, het sy gesê. Volgens Du Plessis is daar tans 50 geregistreerde pasiënte.

Sy het ’n beroep op kankerlyers gedoen om by die kantoor in Sesdestraat aan te meld. “Dit is heeltemal gratis — pasiënte hoef niks te betaal nie,” het sy bygevoeg. Sy het ook gevra dat verpleegsusters wat bereid is om te help, asseblief met die kantoor in verbinding tree.

Related Articles

Back to top button