Local newsNews

Mynonderneming het groot planne vir dorp

Die onderneming het dit goedgedink om op ’n geofisiese manier te prospekteer en om op ou navorsing staat te maak aangesien ’n ou vloeispaatmyn net buite die gebied is.

Die mynonderneming M2 Precious and Base Metals (Pty) Ltd het op Vrydag 20 Julie ’n openbare deelnamevergadering gehou oor hul aansoek om buite Bela-Bela vir minerale te prospekteer.

Die vergadering, wat by Forever Resorts gehou is, moes na ’n groter saal geskuif word omdat meer mense as wat verwag is opgedaag het.

M2 Precious and Base Metals het ’n aansoek by die departement van minerale hulpbronne en energie ingedien om in die Zwartkloof-, Mbizi- en Roodepoort-omgewing buite Bela-Bela vir kobalt, vloeispaat, goud, mangaan en tin te prospekteer. Die area beslaan 1 840 ha, wat wildplase en privaat landgoedere insluit.

Inwoners en grondeienaars wat deur die aansoek geraak word, was aanvanklik bekommerd dat hul insette nie aangehoor sou word nie. Edgar Netshiozwi, geoloog en hoofkonsultant vir die mynonderneming, het egter terwyl hy die voorlegging gedoen het, elke vraag so volledig moontlik beantwoord.

 

Inwoners en grondeienaars in die Zwartkloof-, Mbizi- en Roodepoort-omgewing buite Bela-Bela het tydens ’n openbare deelnamevergadering inligting ontvang oor beoogde mynbedrywighede naby hul grond. Hier is Edgar Netshiozwi, geoloog, aan die woord tydens die vergadering.

 

Netshiozwi het aangedui dat die departement hul prospekteringsaansoek aanvaar het, maar nie ’n mynaansoek nie.

Die onderneming het dit goedgedink om op ’n geofisiese manier te prospekteer en om op ou navorsing staat te maak aangesien ’n ou vloeispaatmyn net buite die gebied is. Die mynonderneming vermoed dat minerale moontlik in die gebied gevind kan word, het Netshiozwi gesê.

“Ons het intussen wysigings gemaak sodat die groter Zwartkloof-omgewing nie deel van die prospekteringsarea sal wees nie. Ons beoog om oor die volgende vyf jaar binne die bepaalde omgewing te prospekteer nadat verdere gesprekke met eienaars plaasgevind het.”

Vergoeding sal ook beskikbaar wees vir eienaars wat gewillig is, het hy gesê.

“Ons mag volgens wet nie bestaande strukture beskadig of binne 100 m vanaf ’n vesting, pad, rivier of begraafplaas boor nie. Sou ons die wetgewing oortree, kan die minister ons aansoek terugtrek,” het Netshiozwi gesê.

“Ons beplan om tussen sewe na 10 boorgate in ’n maand op plekke te boor. Ons sal die geraas en stof tot die minimum beperk.”

Die kontrakteurs wat die boorwerk sal doen, sal aan streng toegangsbeheermaatreëls onderhewig wees. Hulle sal te alle tye ID-kaarte dra, teen ’n sekere spoedbeperking ry, geensins op die eien-domme jag nie en aan die grondeienaar se wense onderhewig wees.

Netshiozwi het gesê die departement sal ook op enige tydstip tydens die projek inspeksie doen.

Indien mense toegang weier, bepaal die wet dat regstappe teen hulle gedoen kan word, het Netshiozwi gesê.

“Die boorgebied sal tot ’n sekere grootte beperk word wat nie die wildlewe in die omgewing sal beïnvloed nie. Ons sal beslis die boorgate weer toemaak aangesien ons in die moeilikheid kan beland indien ons dit nie doen nie,” het Netshiozwi gesê.

Heelwat mense het tydens die vergadering aangedui dat hulle opgewonde is oor die moontlikheid van werkskepping indien minerale wel gevind word.

Volgens Netshiozwi sal die “mynonderneming beslis bydra tot werkskepping in die gemeenskap. Ons sal eers moet be-paal of daar genoeg minerale is aangesien meer minerale meer werkgeleenthede beteken.”

Enige gemeenskapsontwikkeling wat die myn wil doen, moet in pas wees met die Bela-Bela-munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan. Daarom moet konsultasieprosesse eers plaasvind, het hy gesê.

Netshiozwi kon nie vrae beantwoord oor die gebruik van water nie omdat daar nog geen studie gedoen is oor die hoeveelheid water wat gebruik sal word indien daar gemyn word nie.

“Ons sal ons eie water in trokke aanry om tydens die prospektering te boor,” het hy gesê.

“Ons wil graag in samewerking met die munisipaliteit die naaste gemeenskap, Bela-Bela, ondersteun.”

Van die grondeienaars het aangedui dat hulle nie die aanvanklike prospekterings-kennisgewings ontvang het nie. Netshiozwi het gesê hulle sal dit so gou moontlik regstel.

“Ons volgende stap is om verdere vergaderings met die inwoners van Zwartkloof en die omliggende omgewing te hou om nog insette te kry voordat ons die finale plan goedkeur en met almal se toestemming kan voortgaan met die projek.”

Related Articles

Back to top button