Local newsNews

Inwoners warm onder die kraag oor vernoeming van biblioteek

Die Suid-Afrikaanse weermagorkes het op Woensdag 6 Junie by ’n geselligheid waar handboeke aan Makhutjisha Senior Secondary School in Mookgophong geskenk is, opgetree.

’n Paar generaals van die nabygeleë weermagbasis op die Roedtan-pad was ook teenwoordig. Volgens ’n oudonderwyser van die skool wat nie sy naam genoem wil hê nie, is die skool die grootste van sy soort met ’n leerderkapasiteit van tussen 1 700 en 1 800 leerders.

Wat sommige inwoners egter teen die bors stuit is die onthulling van ’n gedenkplaat wat die biblioteek onthul as die Luvuyo Cyprian Nobanda-biblioteek. Die biblioteek is na genl.maj. Luvuyo Nobanda, die huidige hoofdirekteur van weermagvoorbereiding vernoem.

“Mense wat nie die geskiedenis van hierdie skool ken nie, sal die indruk kry dat dit die weermag is wat hierdie biblioteek gebou het. Die bestaande gebou en boeke is inderwaarheid meer as R1 miljoen werd. Deur ’n stel verouderde handboeke, wat slegs ’n paar duisend rand werd is, te skenk, is die biblioteek nou skielik na ’n generaal vernoem,” het hy aan Die Pos gesê.

“Ons verwelkom die idee van ’n bydrae van enige aard aan ’n arm gemeenskapskool, maar nie ten koste van die skool nie,” het ’n ander inwoner gesê.

Die skool is in 1993 gebou en het vir 25 jaar finansiële probleme, sosiale onrus en ’n tekort aan gekwalifiseerde onderwysers oorleef, word beweer.

’n Groot stuk grond wat vir die sportveld toegeken is, is egter in 1995 deur die N1-snelweg afgesny. Dit het die skool gelaat met grond wat nie groot genoeg is om ’n sokkerveld of 400 m-atletiekbaan te bou nie. Ongeag al die struikelblokke het die skool verskeie leerders opgelewer wat hulself as ingenieurs, dokters, tegnici en wetenskaplikes gekwalifiseer het.

“Makhujisha was en is altyd die middel-punt van Mookgophong se gemeenskapsontwikkeling,” het ’n bekende inwoner, wat ook anoniem wil bly, gesê.

Die skool bestaan uit drie enkelverdiepinggeboue: die administratiewe gedeelte aan die voorkant, ’n groot biblioteek in die middel en ’n werkwinkel agter.

Tussenin is twee blokke wat bestaan uit klaskamers, laboratoriums en eksamen-lokale. Al hierdie geboue is deur ’n onderdakgang verbind.

Leerders het die gebou wat die biblioteek akkommodeer voorheen soms vir die internet gebruik. Dit het ook aan leerders die geleentheid gebied om ander akade-miese werk te doen.

* Die Pos het verskeie kere navrae hieroor aan die skoolhoof, MN Mothemele gerig, maar teen druktyd het hy nie gereageer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button