Local newsNews

Geliefde inwoners se dood ruk gemeenskap

“Tot ons mekaar weer sien, rus in vrede.”

Twee boesemvriende, Johan (Killer) van Emmenes en Martin (Matie) Bernardt, is op Donderdag 19 Julie tragies in ’n gru-ongeluk op die N1 oorlede.

Johan (Killer) van Emmenes (40) en Martin (Matie) Bernardt (47), twee oudleerders van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, se skielike dood ná ’n grusame motorongeluk, het die gemeenskap van Mookgophong met skok en hartseer gelaat.

Volgens Van Emmenes se skoonsuster Adania van Emmenes (sy broer, Henk, se vrou) het die afgryslike ongeluk op Don-derdagaand 19 Julie omstreeks 21:30 ongeveer 4 km ná die Petroport op die N1-snelweg gebeur.

Die twee boesemvriende, nog ’n vriend Loren Louw, ook van Mookgophong en Cherenne Steyn van Pretoria, ’n vriendin van Killer, was op pad terug van Gauteng na Mookgophong toe die ongeluk gebeur het.

Louw se Toyota Hilux-dubbelkajuitbakkie waarin die vier gery het, het van agter teen ’n vragmotor op die N1-noord gebots.

Hulle het vermoedelik in die linkerbaan van die snelweg gery en die vragmotor, wat glo ’n U-draai wou maak, was klaarblyklik nie sigbaar nie.

Killer, wat bestuur het, het na wat verneem word probeer uitswaai, maar dit was te laat om ’n botsing te vermy.

Bernardt het reg agter hom gesit. Albei het met die impak van die botsing gesterf, het Adania gesê.

Louw se been is erg beseer en hy sou na verwagting op Maandag 23 Julie ’n operasie in die Montana-hospitaal in Pretoria onder-gaan het.

Steyn het steke aan haar kop gekry, ribbe gebreek en inwendige beserings opgedoen. Sy is in die Louis Pasteur-hospitaal in Pretoria opgeneem vir behandeling.

Die hospitaal het Louw se vrou, Belinda, ongeveer 00:00 in kennis gestel van die ongeluk, waarna sy Killer en Bernardt se families omstreeks 00:30 laat weet het. Albei families is verslae oor hul groot verlies.

Verskeie vriende van die twee inwoners het hul medelye op sosiale media getoon. “Gaan julle mis,” het Willie Willemse, ’n vriend, op Facebook gesê.

“Tot ons mekaar weer sien, rus in vrede.” het nog vriend, Johan Smit, geskryf.

Die twee boesemvriende was gereeld saam op die gholfbaan te sien en het aan verskeie borgdae deelgeneem.

Killer het sy bynaam in gr. 8 gekry toe hy deur een van die matrieks as “Killer” gedoop is en sedertdien het hy oral onder sy vriende só bekendgestaan.

Hy het ook ’n onderneming met die naam Killer Fencing bedryf en was besig met omheinings in die Heidelberg-omgewing.

Bernardt het ook sy eie onderneming gehad wat televisies, matte en blindings geïnstalleer het.

Die twee mans was albei ongetroud en het geen kinders gehad nie.

Killer se ouers, Johan en Alta, is jarelange inwoners van Mookgophong.

Bernardt het in 1981 saam met sy ouers van Vaalwater na Mookgophong verhuis.

“Naas Martin se liefde vir gholf, was daar geen groter liefde as vir sy gesin, en veral vir sy sussies nie,” het Marina Martin, een van Bernardt se drie susters, aan Die Pos gesê.

Die twee vriende se gesamentlike roudiens word op Vrydag 27 Julie om 11:00 vanuit die AP Kerk in Mookgophong gehou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button