Local newsNews

Steenkooltrokke: hoe ry die boere sit-sit so

Inwoners is bekommerd dat lang konvooie vragmotors ongelukke kan veroorsaak en skade aan die padoppervlak sal aanrig.

Die dae van stiller plattelandse paaie blyk vir eers iets van die verlede te wees vir inwoners van Modimolle en Vaalwater.

Ernstige steenkooltekorte in Mpumalanga noop die kragverskaffer Eskom om surplus steenkool vanaf die Medupi-kragstasie in Lephalale na sy kragsentrale in Middelburg aan te ry. Hierdie besluit beteken dat soveel as 200 vragmotors daagliks die R33-roete deur Modimolle en Vaalwater sal ry.

 

Inwoners van Modimolle en Vaalwater is gewaarsku dat hulle ’n aansienlike toename in verkeer op die R33, wat deur albei dorpe loop, kan verwag. Steenkooltekorte in Mpumalanga noop Eskom om steenkool vanaf die Medupi-kragstasie in Lephalale aan te ry na sy kragsentrale in Middelburg. Soveel as 200 vragmotors sal na verneem word daagliks die R33-roete aandurf wat deur Marble Hall, naby Tuinplaas verby en deur Modimolle en Vaalwater loop. Grafika: Willie Nel

 

Dié pad is plek-plek smal met min kans vir verbygaan vir lang ente. Inwoners sê hulle is bekommerd dat lang konvooie vragmotors probleme op dié pad, waarop daar reeds gereeld ongelukke voorkom, sal veroorsaak. Skade wat die swaar vragmotors aan die padoppervlak kan aanrig, is ook een van inwoners se kwellinge.

Die afstand wat die vragmotors moet aflê is sowat 400 km.

Ander inwoners het egter aan Die Pos gesê hierdie kan ’n ekonomiese inspuiting vir dié dorpe beteken en hulle het reeds begin planne beraam hoe hulle voordeel uit dié meevaller kan trek.

Die toename in vragmotors sou, volgens Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, reeds sedert Maandag 16 Julie begin het.
Daar was egter nog nie druk verkeer te bespeur nie.

Volgens haar het die departement van vervoer in Limpopo onderneem om die hoeveelheid verkeersbeamptes op die roete te vermeerder.

“Eskom het die toename in verkeer met ons bespreek omdat die wetstoepassing ons beïnvloed. Ons sal die situasie dophou. Eskom het aangedui dat hulle ook ander partye soos die nasionale padagentskap (Sanral) en die munisipaliteit sal nader,” het Matome Moremi, woordvoerder van die provinsiale departement van vervoer, gesê.

Eskom het twee maande gelede aangekondig dat hulle erge steenkooltekorte by sewe van hul kragsentrales in Mpumalanga ervaar. Die Arnot-, Tutuka-, Majuba-, Hendrina-, Camden-, Kriel- en Komatisentrales het minder as die 20 dae reserwe steenkool gehad soos wat vereis word.

Die tydskrif Mining Weekly het geskryf dat dit die gevolg is van die verskaffer Tegeta Resources wat in Maart onder sakeredding geplaas is. Volgens die tydskrif het Eskom die tekorte ook toegeskryf aan die historiese onderbesteding by steenkoolmyne. Die tekorte het op ’n ongeleë tyd gebeur omdat die land se kragverbruik hoër is gedurende die wintermaande.

Die maatskappy Exxaro se Grootgelukmyn buite Lephalale verskaf steenkool aan Eskom.

Dit is onbekend hoe lank steenkool vanaf Lephalale na Middelburg aangery sal word.

Daar word geskat dat sowat 40% van die land se steenkoolreserwes in die Waterberg-steenkoolvelde, waar dié myne geleë is, lê.

Kenners meen Suid-Afrika se nimmereindigende honger na elektrisiteit kan beteken dat plattelanders in die twee dorpe verlief sal moet neem met toenemende verkeer.

Related Articles

Back to top button