Local newsNews

Kollig wink vir Bela-Bela-aktrise

“Elke persoon het ’n karakter binne hom of haar.”

Tussen die skryfbehoeftes en boeke by PNA in Bela-Bela kruip daar ’n baie ywerige, talentvolle aktrise weg wat al rolle in groot produksies soos 7de Laan, Getroud met rugby en Erfsondes vertolk het.

Leonie Pitzar, oorspronklik van Benoni, het geen amptelike dramaopleiding nie, maar het steeds op die stel van die bekende Afrikaanse film, Vuil Wasgoed, en ander Afrikaanse reekse gewerk.

“Elke persoon het ’n karakter binne hom of haar,” het sy aan Die Pos vertel.

Haar liefde vir die kunste het begin toe sy ’n leerder aan Hoërskool Kempton Park was waar sy koor gesing en dromme gespeel het. Sy het ook heelwat tyd aan boeke lees, musiek luister en films kyk bestee, wat haar geleer het hoe om haarself in ’n storie in te leef en om karakters na te boots, het sy gesê.

Terwyl sy ná skool by verskeie plekke gewerk het, het sy by ’n vriendin gehoor van die geleentheid om ’n televisierol te vertolk.

“Ek het my portefeulje aan die ver-vaardigers gestuur en daar slaan ek skaars twee weke later ’n rol in 7de Laan as ’n verpleegster los.”

Deesdae is sy pal op die uitkyk vir ’n geleentheid om na Gauteng terug te keer om weer op stel te wees.

Leonie Pitzar in haar verpleegsterkostuum op die stel van 7de Laan in Bryanston.

Sy moet egter vir elke rol aansoek doen en is aan die genade van die vervaardigers oorgelaat om vir die rol gekies te word. Sy moes selfs al haar hare kleur vir ’n rol, vertel sy.

“Ek is regtig geseënd om my voet in die deur te kon kry, want televisie is ’n avontuur. Jy sien met elke produksie die mooiste plekke,” het sy gesê.

Haar gunstelingakteurs wat haar op stel beïndruk het, was Zane Meas (Neville Meintjies) en David Rees (Chris Welman) in 7de Laan.

Op die film Vuil Wasgoed se stel as Melissa, die assistent, was sy veral gaande oor Bouwer Bosch se komedie en sy energieke manier van toneelspel.

Omdat die werk baie tydsgebonde is, moet sy haarself druk om ’n draaiboek vinnig te memoriseer.

As iemand in hierdie bedryf wil werk, moet hulle opofferings maak om sukses te behaal, het Pitzar beklemtoon.

“Elke oudisie is anders omdat die vervaardigers altyd op soek is na iemand spesifiek. Ek is normaalweg skaam, maar sodra ek ’n rol moet vertolk, neem ek ’n buite-die-boks-persoonlikheid as my eie aan,” het sy gesê. “Groter rolle verg meer dialoog, beweging, emosie en verskillende posture. As ’n mens gemaak is vir toneelspel, kan hulle vinniger snap wat die vervaardigers wil hê al het jy nooit vooraf met die ander akteurs geoefen nie.”

“As mense van jou weet, word jy vir ander rolle oorweeg. Dit is nog vir my vreemd om in die winkels te stap en mense te hoor sê dat jy bekend lyk van ’n storie op die televisie,” het sy gesê.

“Vandat ek begin het, wil ek nie ophou nie. In die werklike lewe is ek voorspelbaar, maar op stel is ek baie onvoorspelbaar,” het Pitzar gesê. “Ek glo en vertrou in God en dat Hy verdere deure vir my sal oopmaak.”

Mense kan haar gerus op Facebook volg en die volgende reeks van Erfsondes op SABC 2, waarin sy ’n rol vertolk, dophou.

Related Articles

Back to top button