Local newsNews

Dorp groet voorslagvrou

Bela-Bela-inwoners het afskeid geneem van Gerda Oberholzer (66) wat op Dinsdag 3 Julie in die Moot-hospitaal in Pretoria oorlede is weens nierversaking.

Haar dogter, Dorette Kuhn, het gesê haar ma het aan lupus en veelvuldige sklerose gely. Sy het ook gesukkel om te loop ná ’n operasie aan haar voet.

Oberholzer is in die Laeveld gebore en het daar grootgeword. Sy het in Mookgophong skoolgegaan, waarna sy by die destydse Onderwyskollege in Pretoria gestudeer het.

Sy was jare lank ’n personeellid van Bosveldspruitjies Kleuterskool in Bela-Bela. Nadat sy uit die onderwys getree het, het sy tot met haar aftrede by Eerste Nasionale Bank (ENB) in die dorp gewerk.

Oberholzer en haar man, Giel, was in Junie vanjaar 48 jaar getroud. Hulle het twee dogters.

“Ons sal haar altyd om die kombuistafel onthou. Ons sal ook al die lawwe oomblikke, verjaardae, kuiers en goeie raad onthou,” het Kuhn gesê. “Sy was altyd gereed om ’n storie te vertel, het ’n skouer gehad om op te huil, om vreugde mee te deel en het altyd geweet wat om te sê wanneer jy dit nodig gehad het. Sy was voorwaar ’n rots in die gemeenskap.”

Oberholzer is op Saterdag 14 Julie vanuit die NG Warmbad Wes-gemeente begrawe.

Sy laat haar man, Giel, haar twee dogters, Rentia Oberholzer en Kuhn agter, asook haar enigste kleinseun, Niel van der Merwe, op wie sy baie trots was.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button