Local newsNews

Seun sterf ná TV op hom val

“Alle huise in die kinderhuis is toegerus met kameras en ’n opname het aangedui dat die kind alleen in die TV-kamer was toe die televisie op hom geval het.”

’n Tragedie het op Saterdag 7 Julie by die Abraham Krielkinderhuis in Modimolle plaasgevind toe ’n 7-jarige seun dood is nadat ’n televisie op hom geval het.

Die seun, wie se identiteit weerhou word, is ’n leerder aan Laerskool Nylstroom.

Volgens Gerda van der Merwe, hoof van die kinderhuis, was die huis se nege kinders besig om te stort toe die voorval net ná 18:00 gebeur het. Die kinderversorger het toesig in die badkamer gehou.

“Alle huise in die kinderhuis is toegerus met kameras en ’n opname het aangedui dat die kind alleen in die TV-kamer was toe die televisie op hom geval het,” het Van der Merwe gesê. Die seun was glo gestuur om sy slaapklere te gaan haal. “Dit is nie presies duidelik wat gebeur het dat die televisie op die kind te lande gekom het nie,” het sy gesê. Die televisie was glo hoog en is van die swaar ou soort.

Een van die huisinwoners het op die seun afgekom en die kinderversorger gaan roep.

“Ons het nooddienste ontbied, maar met hul aankoms is die seun dood verklaar,” het Van der Merwe gesê.

Die maatskaplike werker aan diens by die kinderhuis het die maatskaplike werker wat met die ouers werk in kennis gestel. Die ouers is onmiddellik na die kinderhuis geneem waar hulle tyd gegun is om afskeid van hul kind te neem.

Volgens Van der Merwe sal die kinders en personeel wat die dag diens gedoen het en getraumatiseer is, berading ontvang. Die seun, asook ’n broer en ’n suster is die afgelope twee jaar inwoners van die Abraham Krielkinderhuis. Die departement van maatskaplike dienste het onderneem om die begrafnisreëlings te tref.

Volgens AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, sal ’n geregtelike doodsondersoek gedoen word.

Related Articles

Back to top button