Local newsNews

Mynmaatskappy wil in Roodepoort-omgewing prospekteer

“Hierdie is slegs die eerste fase — die prospekteringsfase — van die aansoek, sodat ons kan bepaal of die hulpbronne werklik ondergronds is.”

Kennisgewings dat ’n mynmaatskappy beoog om in die Roodepoort-omgewing buite Bela-Bela te myn, word al geruime tyd aan grondeienaars in dié omgewing gestuur.

M2 Precious and Base Metals (Pty) Ltd van Gauteng het ’n aansoek by die departement van minerale hulpbronne en energie ingedien om in die omgewing vir kobalt, vloeispaat, goud, mangaan en tin te prospekteer.

Luidens ’n kennisgewing van die maatskappy is die grond waarop hulle wil prospekteer op Zwartkloof 707 KR gedeeltes 0, 1, 9, 10, 11, 12, 20 en 126.

Ander plekke sluit Roodepoort 467 KR met gedeeltes 37, 38, 39, 61, 93, 98, 99, 100, 103, 104, 107, 108, 139, 156, 171, 195, 200, 201, 209, 210, 211 en 214 in. Die maatskappy wil bykomend ook op die eiendom Hermann 468 KR gedeelte 0 prospekteer.

Die totale omvang van die area beslaan 1 840 ha en is 3 km buite Bela-Bela op die Thabazimbi-pad geleë.

’n Openbare deelname vergadering oor die aansoek vind op Vrydag 20 Julie om 10:00 by Forever Resorts in Bela-Bela plaas.

Edgar Netshiozwi, die omgewingsgeoloog namens die maatskappy, het by navraag gesê eienaars en partye wat deur hierdie soort aansoeke geraak word, moet ter voorbereiding veral vertroud raak met die nasionale omgewingsbestuurswet (NEMA), asook met die wet op die ontwikkeling van minerale- en petroleumhulpbronne (MPRDA).

“Hierdie is slegs die eerste fase — die prospekteringsfase — van die aansoek, sodat ons kan bepaal of die hulpbronne werklik ondergronds is,” het Netshiozwi gesê. “Sou ons daar boor en vind waarvoor ons soek, sal studies gedoen word om te verseker dat omgewingsfaktore in ag geneem word.”

Die Pos het by betroubare bronne verneem dat ’n meerderheid van die grondeienaars gekant is teen die projek en reeds as geraakte partye geregistreer het.

Die gedeeltes waarop die maatskappy wil prospekteer sluit wildsplase in.

’n Paar mynmaatskappye het die omgewing in die verlede op soek na minerale besoek.

Die meeste het veral op die Springbokvlakte gefokus.

Openbare prosesse en teenkanting van grondeienaars het egter daartoe gelei dat hierdie maatskappye alle prosesse moes stopsit.

Netshiozwi nooi alle grondeienaars uit om die vergadering aanstaande week by te woon.

“Eienaars moet asseblief met ’n oopkop na die vergadering kom, vrae vra en enige klagtes of probleme rakende die beoogde projek met ons bespreek,” het hy gesê.

Vir meer inligting oor die aansoek en om as ’n geraakte party te registreer, bel vir Netshiozwi by tel. 076 172 7188 of stuur ’n e-pos na edgarele.netshiozwi@gmail.com of ’n faks na tel. 086 664 2365.

Related Articles

Back to top button