Local newsNews

Kommer heers oor provinsiale gesondheidsorg

Die wagtyd vir ’n kankerpasiënt in Limpopo om behandel te word, is een jaar. Daar is ook ’n agterstand van 26 000 beplande operasies wat nog nie uitgevoer is nie.

Twee prominente DA-lede het die Warmbad-hospitaal op Woensdag 4 Julie tydens ’n oorsiginspeksie besoek en bevind dat die hospitaal in sekere afdelings te kort skiet.

Een van die probleme wat die DA glo ondervind het, was rassisme.

Lindy Wilson, Waterberg-kiesafdelingshoof en adjunkskaduminister van gesondheid, het die hospitaal saam met Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, besoek om klagtes van die gemeenskap te ondersoek. Die inwoners kla glo dat die hospitaal mense die afgelope tyd wegwys.

Volgens Wilson het twee mense gesterf omdat hulle na bewering weggewys is. Een was ’n baba.

Die DA-lede het, terwyl hulle die instansie besoek het, koppe gestamp met dr. Dan Sithole, die kliniekbestuurder.

Luidens ’n verklaring van die DA het Sithole gesê Wilson moes “nie met haar wit mentaliteit” by die hospitaal opgedaag het nie.

Dit het na wat verneem word gebeur toe die groep hul redes vir die besoek probeer bekendmaak.

Die voorval het daartoe gelei dat die DA op Donderdag 5 Julie ’n klag teen Sithole by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien het oor sy aanmerkings.

Wilson-hulle het heelwat probleme met die toestand van die hospitaal opgemerk.

Die hospitaal, wat in 1952 gebou is, se infrastruktuur raak by die dag meer vervalle weens swak instandhouding. Die provinsiale departement van gesondheid is in dié verband een van die skuldiges. Die instandhouding van die gebou is dié department se verantwoordelikheid, maar weens wanbesteding is dit een van die take wat min aandag geniet.

Wilson het gesê die provinsiale departement se uitstaande skuld beloop tans R3 miljard en eise van R4 miljard staar hulle in die gesig. Dit bewys die benarde posisie van die provinsie se gesondheidsorg weens wanbesteding, het sy gesê. Haglik omstandighede verhoed ook dat spesialiste na staatshospitale gelok kan word.

Wilson het die hospitaal egter, ondanks verskeie uitdagings, as ’n goedfunksionerende hospitaal beskryf.

“My eerste probleem met die Warmbad-hospitaal is dat dit ’n distrik- en nie ’n streekhospitaal is nie. Dit beteken hulle kan beperkte sorg aan pasiënte lewer,” het Wilson gesê.

Die hospitaal het geen onkologie- of intensiewesorgeenheid nie. Daarom word die meeste pasiënte wat hierdie sorg benodig na Polokwane of Mokopane verwys.

“Die Warmbad-hospitaal het wel ’n hoësorgeenheid, maar die meeste van die mediese toerusting is oud en moet vervang word. Hulle het min ruimte om verder uit te brei.”

Volgens Wilson raak hierdie hospitale ook vol wat mediese sorg belemmer en pasiënte word dan noodgedwonge na onder meer hospitale in Gauteng verwys.

Sy het voorts gesê die wagtyd vir ’n kankerpasiënt in Limpopo om behandel te word, is een jaar. Daar is ook ’n agterstand van 26 000 beplande operasies wat nog nie uitgevoer is nie.

“Dit is ’n doodsvonnis,” het Wilson gesê. “Volgens ons statistieke is daar slegs 1.5 spesialiste beskikbaar vir elke 100 000 mense in Limpopo. Dit sluit nie eens die tekort aan toerusting of beddens in nie.”

Wilson is van plan om hierdie probleme met die LUR en minister van gesondheid in die parlement te bespreek. Hulle wil verder ook kyk of die Warmbad-hospitaal eerder na ’n streekhospitaal, wat meer kan bied, kan verander.
Die DA is ook van plan om Sithole se “gruwelike” optrede by die Suid-Afrikaanse Raad vir Gesondheidsberoepe aan te meld.

Die Pos het Derick Kganyago, uitvoerende bestuurder van kommunikasie by die provinsiale departement van gesondheid, om kommentaar genader.

Hy het gesê hulle is bewus van die DA se besoek, asook die verklaring rakende die sogenaamde rassisme, maar hy kan nie kommentaar lewer totdat die MRK ondersoek ingestel het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button