Local newsNews

Hou die kinders die vakansie só besig

Die Julie-skoolvakansie wil-wil einde se kant toe begin mik.

Hier is ’n paar idees om jonger kinders besig en kreatief te hou.

Winter is jagseisoen. Gee vir die kinders ketties (dit is nog beter as hulle dit self maak) en druk prente van diere op papier uit waarna hulle kan mik (los maar eerder die renosters). Gee vir hulle foelie om R5-grootte patrone mee te rol — dit hou die vensters en troeteldiere veilig.

Daar wag ’n ontluikende jong wetenskaplike in elke nuuskierige kind. Laat hulle gelyktydig lag en leer deur asyn-en-koeksoda-vuurpyle te bou. Maak drie potlode met kleefband aan ’n leë plastiekkoeldrankbottel vas sodat dit soos ’n driebeenpot regop staan met die prop na onder. Gooi ’n halwe koppie asyn in die bottel. Vou ’n teelepel koeksoda in ’n stukkie handdoekrol toe. Vou dit sodat dit maklik deur die opening van die bottel pas.

Hierdie vuurpyl-eksperiment sal aan enige kind vermaak verskaf. Onthou dat dit liefs onder ouertoesig gedoen moet word.

Sodra die koeksoda ingegooi is, druk ’n kurkprop in die bottelopening in (nie te stewig nie). Dop die bottel om en maak dit vinnig staan en staan so tree weg — daardie bottel skiet baie hoog. Die koeksoda en asyn reageer en vorm ’n gas, wat die kurkprop uitdwing en siedaar! Die vuurpyl skiet dit lug in. Eksperimenteer met verskillende hoeveelhede asyn en koeksoda. (Ouertoesig is noodsaaklik.)

Skuil Barbiepoppe verleë in die pophuis oor die toestand van hul hare? Bespreek vir hulle ’n mooimaaksessie by jou dogter se spa. Gooi ’n bietjie versagmiddel soos Staysoft in ’n bakkie en laat Barbie vir so uur kop-agteroor lê en ontspan. Werk dit goed in die hare in. As die hare baie gekoek is, kan dit oornag in haar hare bly.

Sonder om die versagmiddel af te spoel, kam die pop se hare versigtig met ’n wye-tandkam uit. Spoel die versagmiddel deeglik uit en druk die hare met ’n handdoek droog of laat dit sondroog. ’n Haardroër sal die probleem vererger. As die hare droog is, kam dit weer ’n keer uit.

Trek ’n paar kartonbokse nader en laat die kinders ’n pophuis prakseer. Hulle kan die mure inkleur of verf of met tydskrifprente beplak.

Koop verskillende vorms pasta met gaatjies en laat die kinders dit verf of kleur dit met koskleursel. Wanneer dit droog is, kan hulle dit op ’n lyntjie ryg om juwele mee te maak.

Hou die kinders besig deur hierdie grillerige slym te maak.

Probeer dié eenvoudige resep om grillerige slym te maak. Gooi 60 ml vloeibare deurskynende of wit gom in ’n glasbak en voeg 60 ml warm water by. Meng dit baie goed. Koskleursel kan ook bygeroer word. Meng ’n halwe teelepel boraks in aparte houer by ’n kwart koppie koue water. Voeg dié mengsel by die gom en meng dit aanhoudend tot dit slym vorm.

Gebruik eers net twee derdes van die boraksmengsel en voeg by soos nodig. Deurskynende gom wat blinkers in het, kan ook gebruik word of blinkers kan bygevoeg word voordat dit met die boraks gemeng word. Bêre dit in ’n lugdigte houer.

Related Articles

Back to top button