Local newsNews

Só span Mookgophong-inwoners kragte saam

Inwoners, sakelui en AfriForum-lede van Mookgophong het kragte saamgespan en fluks aan die werk gespring om die dorp op te knap en netjies te maak.

AfriForum het van 18-22 Junie vir Johan Koch gekry om die lang gras op die sypaadjies in Nelson Mandelalaan te sny en netjies af te rond.

Mokone du Preez, voorsitter van die sakekamer in Mookgophong, het op Maandag 25 Junie inisiatief aan die dag gelê en saam met Philip van Staden van AfriForum begin om die randstene van die verkeerslig op die hoek van Thabo Mbeki- en Nelson Mandelalaan te verf. Altesame 20 lede van Working on Fire (WoF) het ook aan die werk gespring en met die verfwerk tot verby die kruising op die hoek van 9de Straat en Nelson Mandelalaan gehelp. Sand is uit die strate verwyder en die WoF-lede het verder gehelp om die middelmannetjie skoon te maak.

Daarna was daar geen keer aan die inwoners nie en Johan Bronkhorst het begin om die stoptekens en voetoorgangstrepe in die dorp nuut oor te verf. Hy en sy span het na-uurs tot 01:30 gewerk om alles geverf te kry. Bronkhorst het self vir die verf betaal en het ook al die swaar blombakke gebring wat op die middelmannetjie geplaas is.

Die verf vir die blombakke is deur ’n bekende hardewarewinkel in die dorp geskenk. Die talle oorhangtakke wat die busse krap wat in 9de Straat moet parkeer om kinders af te laai, is ook gesnoei. AfriForum het die koste daarvan gedra.

Antoinette Degenaar, Mariaan Scherman en Jaco van der Walt het plante geskenk wat op Vrydag 29 Junie in die potte geplant is. Daleen Brooks het ’n vrag beesmis geskenk en Pieter Diedricks, asook Faan Burger, het plante en aalwyne aangedra. Danie Pretorius het ’n vrag rooigrond bygedra om die potte mee te vul.

Hennie Fouché het ’n span werkers gestuur wat Nelson Mandelalaan vanaf die kruising met 9de Straat skoon geskoffel het en hulle het ook die middelmannetjie na Die Oog, wat oorgroei was met gras en vol sand, skoongemaak. Verder is 9de Straat vanaf Nelson Mandelalaan tot by 6de Laan skoongemaak deur al die sand te verwyder en Annemarie Potgieter-vervoer het al die vullis en sand verwyder.

Die verkeersafdeling in die dorp het verskeie nuwe stoptekens, wat deur AfriForum aangekoop is, opgerig.

Raadslid Hercules Louw het die slaggate laat vul met die 150 sakkies koue teer wat ook deur AfriForum aangekoop en aan die munisipaliteit geskenk is.

Potgieter het ’n bakkie met werkers beskikbaar gestel wat die sand opgelaai het by die vrag wat Naboom Sand gebring het. Hulle het verder gehelp met die vul van die potte sodat Degenaar en haar span vroue die plante kon plant.

Dolf Botes het twee kratte met sakkies water aan al die werkers voorsien. Van die ondernemings in dorp het besems en maskers vir dié reuseprojek geskenk. Nog inwoners wat bydraes gelewer het, is Anton Venter, Arrie Opperman, André Joubert, HP Erasmus, Jeandré Potgieter en Suleiman Chaya.

“Daar is so baie mense wat gehelp het. Baie dankie aan elkeen wat ’n bydrae gemaak het — groot of klein,” het Du Preez gesê.

Related Articles

Back to top button