Local newsNews

Konsert sorg vir groot vermaak by Naboom tehuis

Die jaarlikse verskeidenheidskonsert is op Saterdagaand 16 Junie by die Tehuis vir Bejaardes in Mookgophong gehou.

Die gaste is getrakteer met puik items deur inwoners van die gemeenskap en die tehuis. Ds. Phillip Bredenhann van die Afrikaanse Protestante Kerk in Mookgophong het die verrigtinge geopen. Met die aanvang van die konsert was daar eers duisternis weens beurtkrag, maar die donker het nie die geesdrif van die gaste of aanbieders gedemp nie en ’n kragopwekker is ingespan.

Ná die eerste item, wat deur ’n paar manne wat bekendstaan as “Die singende manne” gelewer is, is heerlike sop en brood bedien. Hulle het ’n paar liedjies uit vervloë dae gesing en heel grappenderwys met toneelspel gekombineer — natuurlik tot almal se vermaak.

Suzie Burger en Gerda Lubbe het ’n toneelstuk opgevoer. Die stuk, Jeremiades en Ipekonders, is deur Marita Vorster geskryf. Lubbe het die rol van die befoeterde tant Mara vertolk terwyl Burger die rol van die sagmoedige verpleegster vertolk het.

Ander items was trekklavierspel deur Edna Niemand en Johan du Preez het die pragtige lied You raise me up gesing.

Edward Wilson en Hannes Kasselman het ’n duet gesing en Lynette Stavast het Stories van Rivierplaas weer laat herleef. Neels van Vliet het ’n Vadersdagboodskap gelewer.

Ander items het ingesluit ’n duetklavierspel deur Toeks Erasmus en Christo Stols.

Dié item is Klavier vir vier hande genoem en was baie gewild. Die aand is met samesang afgesluit.

Hercules Louw, bestuurder van die tehuis, het die bedankings gedoen en groot dank is uitgespreek vir die getroue borge wat die tehuis ondersteun.

“Die konsert is altyd gewild en almal het dit baie geniet,” het Elma du Preez gesê.

Related Articles

Back to top button