Local newsNews

Bring ongelisensieerde wapens polisiestasie toe

Vuurwapeneienaars vrees nou dat indien hulle hul wapens waarvan die lisensies verval het gaan indien, hulle vervolg sal word.

Die onlangse grondwethofuitspraak oor vuurwapenlisensies wat nie betyds hernu is nie, beteken dat daardie eienaars nou in besit is van onwettige vuurwapens.

Hierdie vuurwapens moet by die naaste polisiestasie indien word om vernietig te word, het kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, in ’n verklaring gesê.

Die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wild-bewaringsvereniging (SAJWV) het in 2017 ’n aansoek teen die minister van veiligheid en sekuriteit in die hooggeregshof ingedien omdat die vereniging van mening is dat die hernuwingsproses van vuurwapenlisensies, in terme van die vuurwapenbeheerwet (artikels 24 en 28), ongrondwetlik is.

Artikel 24 handel oor die hernuwing van lisensies en stipuleer dat hernuwings binne 90 dae nadat die lisensie verval het, moet plaasvind. Artikel 28 bepaal dat vuurwapens met lisensies wat gekansel-leer is, binne 60 dae aan die polisie oorhandig moet word.

Die hooggeregshof het die saak na die grondwethof verwys, maar die grondwethof het die saak op Donderdag 7 Junie ter syde gestel.

Vuurwapeneienaars vrees nou dat indien hulle hul wapens waarvan die lisensies verval het gaan indien, hulle vervolg sal word.

Ngoepe het gesê geen polisiestasie sal ’n persoon wegwys wat hul wapens vrywillig wil oorhandig nie. Vuurwapeneienaars moet alle ongelisensieerde wapens indien.

“Elke polisiestasie het die mannekrag en vermoë om die vuurwapens en ammunisie wat ingedien word, te hanteer. Ongelisensieerde vuurwapens sal nie vir langer as 24 uur by ’n polisiestasie gehou word nie,” het Ngoepe gesê.

Om risiko’s te vermy word die wapens slegs by ’n bepaalde punt by polisiestasies ingedien en elke eienaar sal ’n bewys, wat ’n ongevalleboek- en SAPS 13-nommer op het, ontvang.

Kapt. Jacques Vierbergen van die vuurwapenafdeling by die Bela-Bela-polisie het gesê dit dien slegs as bewys dat die eienaar hul vuurwapen ingedien het.

Volgens Ngoepe is die groen vuurwapenlisensies (die lisensies wat uitgereik is ingevolge die Wapen en Ammunisie Wet van 1969) steeds geldig. Diegene wat na die wit lisensie vir ’n vuurwapen oorgeskakel het, kan nie die groen lisensie as ’n geldige lisensie gebruik nie.

Geen vergoeding sal vir onwettige vuurwapens gebied word nie. Sulke wapens sal nie hergelisensieer kan word of aan vuurwapenhandelaars oorhandig kan word nie, het Ngoepe gesê.

“Verder is dit onwettig om vuurwapens te beskadig, te vernietig of om dit in stukke aan die polisie te oorhandig,” het Ngoepe gesê.

“Die enigste wettige manier om van vuurwapens ontslae te raak, is om dit aan die polisie te oorhandig.”

Related Articles

Back to top button