Local newsNews

Oud-Warrie laat die koppe draai

Elsa Hansen (16), ’n oudleerder van Laerskool Warmbad, maak deesdae naam in die modelbedryf.

Sy het op Maandag 18 Junie in Milaan, Italië, vir die bekende modeontwerper Frankie Morello in sy Herfs 2018-modeskou op die loopplank uitgestap.

Elsa, wat in Pretoria skoolgaan, het ook in ’n fotosessie vir die modehuis Dolce & Gabanna as model geposeer.

Volgens haar ma, Petro, het Elsa as kind reeds eerder na die modekanale op televisie gekyk as na kinderprogramme. Sy het gereeld in haar ma se hoëhakke geloop en daarvan gedroom om model te word.

Elsa het haar modelloopbaan op 14 by ’n Johannesburgse modelagentskap begin en werk deesdae vir ’n modelagentskap van Kaapstad.

Sy het die afgelope twee jaar modelwerk vir van die bekendste modehuise en klerewinkels gedoen en het ook in verskeie glanstydskrifte verskyn.

“Elsa beskou haar modelwerk as ’n platform om ’n verskil te kan maak en om te inspireer. Haar drome is groot en sy streef dit voluit na,” het Petro gesê.

Volgens Elsa is die druk en mededinging onder modelle wat vir groot kontrakte meeding, baie groot.

“Modelwerk leer my van die sakewêreld en ek is op my ouderdom reeds besig om my eie handelsmerk te bestuur. Jy moet ’n dik vel hê,” het Elsa gesê.

“Modelwerk is my passie — dit leer jou om met mense te kommunikeer en bevorder selfvertroue. Ek geniet dit elke dag en bowenal is die heel belangrikste om seker te maak dat jou drome ook jou passie is, want dan is enige werk lekker.”

Sy beoog om ná skool te studeer, maar steeds modelwerk te doen.

Volgens Elsa is sy veral dankbaar vir haar skool se ondersteuning, asook die ondersteuning wat sy by die Warries ontvang het, wat haar aangemoedig het om haar talente uit te leef.

“Ek waardeer my vriende en familie wat my ondersteun, want sonder ondersteuning kan ’n mens dit glad nie maak nie. My twee oumas, Lente van der Merwe en Gerda Putter, is my grootste aanhangers. Bowenal is ek dankbaar vir die Here wat my met hierdie talent geseën het.”

Haar raad aan ander meisies is om hulself op die hoogte te hou oor presies wat dit vereis om ’n model te wees en om seker te maak of hulle werklik daarvoor aangelê is.

Related Articles

Back to top button