Local newsNews

Almal aan die gons oor grondonteiening

“Daar is mense in die bestuur van hierdie dorp (Modimolle) wat nie bevoeg is nie en wat steel. Die uitdaging is hoe om goeie mans en vroue in die posisies te kry om plaaslik, provinsiaal en nasionaal te regeer.”

Groot name in Suid-Afrika het Modimolle op twee geleenthede besoek en oor dringende kwessies soos grondonteiening sonder vergoeding te praat.

Mosiuoa Lekota, leier van die politieke party Cope, het sakelui op Donderdag 14 Junie op uitnodiging van die Waterberg-sakekamer, toegespreek oor onteiening en plaaslike regering. Lekota het gesê inwoners van Suid-Afrika sal eers floreer wanneer hulle besef dat hulle eerstens Suid-Afrikaners is voordat hulle Batswana, Bapedi, Afrikaners of ’n ander groep is. Hy het gesê ’n mens besef eers die waarde van Suid-Afrika wanneer ’n mens in die buiteland was, veral in Latyns-Amerika en die res van Afrika. “Ons woon in ’n wonderlike land,” het hy in Afrikaans gesê.

Hy is bekommerd oor die praatjies oor grondonteiening, maar het sakelui gemaan om in hul pasoppens te wees vir bangmaakpraatjies. “Voor 1994 was daar baie stories, maar niks het daarvan gekom nie,” het hy gesê.

“Daar is mense in die bestuur van hierdie dorp (Modimolle) wat nie bevoeg is nie en wat steel. Die uitdaging is hoe om goeie mans en vroue in die posisies te kry om plaaslik, provinsiaal en nasionaal te regeer.”

Hy het gesê grond moet aan diegene met die kundigheid om te boer, gegee word en dat jong mense opleiding hiervoor ontvang.

Ekonome, regslui:

Die ekonoom Dawie Roodt van Efficient Wealth, Jacques Classen, ’n prokureur, Piet le Roux van AfriSake en afslaer Niel Swart het op Dinsdag 19 Junie gepraat oor hoe om jouself teen onteiening sonder vergoeding te beskerm. Boere is daaraan herinner om hulself ook as sakelui te beskou.

Le Roux het gepraat oor die rol wat die regering moet speel om ’n gunstige omgewing vir sake te skep deur wetgewing en die toepassing daarvan, asook infrastruktuur soos paaie en elektrisiteit.

Hy het voorbeelde uit die geskiedenis genoem waar sakelui klubs gevorm het om hul hand te sterk.

Die voorbeelde sluit in die Hanse-liga van die 1358 tot 1862 en die Londense aandelebeurs se koffieklubs.

Roodt het gesê regerings wêreldwyd meng al meer met die alledaagse lewens van hul burgers in. “Skuldvlakke van regerings wêreldwyd is die hoogste wat dit al ooit was,” het hy gesê. Hy het gesê mense pas hul groeperings aan, soos die geval met Brittanje se Brexit en Katalonië wat wil afstig van Spanje. Demografiese veranderinge soos dat vroue minder kinders kry en mense baie langer leef, het ook ’n invloed op die ekonomie.

Roodt het ook oor block chain-tegnologie, soos dié van die elektroniese geldeenheid Bitcoin, gepraat. Hy het voorspel dat banke en belasting gaan verander om hierby aan te pas en dat dié tegnologie regerings gaan ontmag ten gunste van die mense.

Classen het op sy beurt oor onteiening gesê daar kan nie by een groep gevat word en vir ’n ander groep gegee word nie. So ’n stap sal eers teen internasionale handelswette getoets moet word, byvoorbeeld die van die BRICS-lande.

Dié verdrae bepaal spesifiek dat eiendomsreg beskerm moet word. Hy het uitgebrei oor ’n beskikbare polis om mense teen grondgrype te beskerm deur regskoste te dek.

Swart het oor die stand van die wildbedryf gepraat. Volgens hom was daar ’n 42% daling in omset in dié bedryf van 2016 na 2017. Die meeste veilings tot nog toe is egter in 2017 gehou met 447 000 stuks wild wat verkoop is. Hy het boere aangeraai dat doeltreffendheid verhoog moet word. Minder veilings is vanjaar gehou, maar meer bokke is verkoop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button