Local newsNewsBreaking News

Soektog duur voort ná plaasaanval

Die aanvallers het op die egpaar geskiet terwyl hulle in die bakkie gesit het en Lesley in die maag getref.

’n Reusesoektog na die vier aanvallers van die bejaarde dr. Hercu van Niekerk, afgetrede veearts, en sy vrou, Lesley, van die Boekenhout-omgewing tussen Modimolle en Mookgophong is aan die gang met talle inwoners wat help met die soektog.

Lees ook: Plaasaanval: Bejaarde vrou gewond

Lesley is in ’n kritieke toestand nadat sy in die maag gewond is. ’n Helikopter het haar na ’n Pretoriase hospitaal vervoer.

Haar man en ’n werker, Abram Khethisa, is ongedeerd. Die Van Niekerks en Khethisa is net ná 08:00 vanoggend oorval toe hulle op pad was om diere te gaan kos gee. Die aanvallers het op die egpaar geskiet terwyl hulle in die bakkie gesit het en Lesley in die maag getref. Khethisa het die bosse in gevlug.

Die aanvallers is met die egpaar na hul huis toe, waar hulle, volgens kol. Moatshe Ngoepe, die kluis se sleutels geëis het. Hulle het op die vlug geslaan met die egpaar se goudkleurige Toyota-bakkie met ’n onbekende bedrag geld en vuurwapens. Hulle het in die rigting van Crecy gevlug maar het later uit die voertuig gespring en die veld ingehardloop.

Teen 14:00 vanmiddag is daar langs die R516 tussen Tuinplaas en Mookgophong na die verdagtes, wat glo uit een van die helikopters gesien is, gesoek. Die aanvallers het vermoedelik twee-twee in verskillende rigtings gevlug. Die spoorsnyers van Heritage Protection Group (HPG) was volgens diegene betrokke by die soektog, kort op die gewapende mans se spoor.

Volgens Barend Pienaar, van ’n plaaslike veiligheidsorganisasie, is daar meer as 90 voertuie op die toneel, verskeie veiligheidsorganisasies van sover as Mokopane, ’n polisie-helikopter van Polokwane, drie privaat helikopters en selfs ’n hangvlieër deel van die soektog. Hy het gesê daar is vermoedelik met ’n .223-geweer op die Van Niekerks geskiet.

Verdere inligting oor Lesley se toestand is nog nie bekend nie. Hou Die Pos dop vir meer inligting.

Related Articles

Back to top button