Local newsNews

Jong man steeds in hospitaal ná gru-ongeluk op Vaalwater-pad

’n Jong man van Benoni is steeds met ernstige beserings in die hospitaal ná ’n gru-botsing op Vrydag 25 Mei in Vaalwater waarin ’n ma en haar kind gesterf het.

Jack Ashton (23) was die betrokke dag teen skemer van Lephalale, waar hy werk, na Benoni onderweg toe hy in ’n botsing reg van voor op die R33 ongeveer 3 km buite Vaalwater betrokke was.

Makwena Selepa (40) en haar 11-jarige dogter, Letabo is op slag dood nadat die Volkswagen Polo waarin hulle gery het Ashton se Hilux-bakkie getref het, het konst. Monate Mmabolo van die polisie in Polokwane aan Die Pos gesê.

Die Pos was op die toneel waar Ashton van 18:00 af vir ongeveer twee en ’n half uur in sy opgefrommelde bakkie vasgekeer was terwyl hy uit die wrak gesny moes word. Hy is per ambulans na die Lephalale Medi Clinic vervoer waarna hy later na die Unitas-hospitaal in Pretoria verskuif is, het sy ma, Leonie Ashton, by navraag gesê.

Ashton se elmboog is vergruis, stukkies been van sy knie is weg en sy been, asook pelvis, is gebreek. Hy sal ook ’n heupvervanging moet ondergaan.

Volgens Leonie het Ashton op Saterdag 9 Junie wakker geword nadat hy vir twee weke in die intensiewesorgeenheid was. Hy moes egter weer dadelik verdoof word weens die pyn wat hy verduur het.
Leonie het gesê die dokters kon nog nie aan sy gebreekte pelvis opereer nie aangesien hy ’n gekneusde long opgedoen het.

Die operasie was vir Woensdag 13 Junie geskeduleer.

Leonie het haar dank uitgespreek teenoor die Vaalwater-gemeenskap wat God se goedheid gewys het in die manier waarop hulle haar kind bygestaan het.

Sy en Ashton se verloofde, Gerty Young, waak om die beurt by hom in die hospitaal, het sy gesê.

Leonie het vertel die rukkie dat sy oë oop was, het hy aan sy pa gesê dat hy gedink het hy gaan sterf en dat die ongeluk ontsettend vinnig gebeur het. “God is goed, Ma,” het hy aan haar gesê. Ashton sal hopelik ná die operasie op Woensdag uit die intensiewe-sorgeenheid na die hoësorgeenheid oorgeplaas word. “Hy trou aanstaande jaar en het nou net ’n huis gekoop,” het Leonie gesê. “Mag God sy lewe nog lank spaar.”

Related Articles

Back to top button