Local newsNews

Kinderhuiskinders vertel stories wat die harte raak

Gerda van der Merwe, hoof van die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle, het ’n kans gewaag en haar toewyding het goeie vrugte afgewerp.

Miskien, net miskien, kan sy ’n produksiemaatskappy oortuig van haar idee om mense wat in ’n kinderhuis grootgeword het, die kans te gee om hul lewensverhale te vertel, het sy gedink.

Dié wens het waar geword met die reeks Wees, wat nou elke Woensdag om 21:00 op Via, DSTV-kanaal 147, uitgesaai word, het sy die afgelope week aan Die Pos vertel.

Die aanbieder, bekende skrywer Piet Matipa wat self in ’n kinderhuis grootgeword het, praat in die reeks met 13 volwassenes wat hul inspirerende verhale vertel.

“Ek het nog die kontaknommers gehad van die mense wat opnames by ons kinderhuis gemaak het met die sangers Bobby en Karlien van Jaarsveld se besoek so ’n ruk gelede. Ek het hulle genader met die idee, maar hulle wou aanvanklik net ’n dokumentêr vervaardig,” het Van der Merwe aan Die Pos vertel.

“Dit is glad nie wat ek wou hê nie. Ek wou graag hê mense moet hul verhale vertel sodat die buitewêreld insig in en waardering vir hierdie kinders se opdraande stryd kan hê.”
Volgens Van der Merwe het die wiele stadig maar seker aan die rol gekom.

In September verlede jaar is ’n fondsinsameling in Gauteng gehou waar vyf uitskieters uit verskillende kinderhuise gepraat het.

Een van hulle het op kort kennisgewing gekanselleer en die verteenwoordigers van die betrokke kinderhuise het vir Piet (Matipa) gevra om in te staan en die produksiespan genooi om te kom kyk.

“Hulle was geïnspireerd en het besluit om ’n reeks aan te pak,” het Van der Merwe gesê.

“Piet het sommer ook die aanbieder van die program geword!”

Volgens Van der Merwe het hulle baie positiewe terugvoer ontvang.

“Die doel van die program is om mense bewus te maak van die welsynsdienste by alle kinderhuise regoor die land. Mense wil soms baie kilometers aflê om ons te ondersteun, maar daar is dalk ’n kinderhuis baie naby aan hulle wat dringend hulp nodig het.”

Sy het gesê die harde werklikheid is dat kinderhuise toemaak weens ’n tekort aan geld. Die kinders word dan terug by hul families geplaas of in ander kinderhuise gehuisves.

“Die deurlopende boodskap wat die mense op die program tuisbring, is dat jy alleen die besluite maak oor jou toekoms, ongeag jou omstandighede. Jy is verantwoordelik vir die besluite wat jy neem. Daar kom baie geleenthede en dit is jou keuse om dit aan te gryp of nie,” het sy gesê.

In een van die episodes het Matipa met Stephné Klopper gesels wat as suksesvolle volwassene haar verhaal van bloedjonge verslawing tot verlossing met kykers deel.

Related Articles

Back to top button