Local newsNews

Bekende inwoner van Mookgophong sterf

Joe Geyer (68), ’n bekende en geliefde inwoner van Mookgophong, is op Saterdagaand 9 Junie op hul plaas Klipputgat buite die dorp dood.

Hy het in 2014 by die dood omgedraai nadat hy ’n bakteriese infeksie ná ’n rugoperasie opgedoen het. Hy het wonderbaarlik herstel, maar het daarna met sy gesondheid gesukkel.

Volgens sy vrou, Liana, het hy vroeër die aand aan haar gesê dat hy moeg was en vroeg wou eet.

“Ek het vir ons ribburgers gemaak en Joe het voor die televisie gesit en eet. Dit was omstreeks 18:30 toe hy ’n geweldige hoesbui gekry het. Ek het opgestaan en toe ek by hom kom, het hy vreemd asemgehaal, en toe was hy weg,” het sy gesê.

Joe en Liana woon van 1994 op hul plaas wat aan Nylsvley grens. Joe is in 1950 in Klerksdorp gebore en het onderwys studeer. Sedert hulle op die plaas gewoon het, het hy met beeste en wild geboer. Hy het vroeër die Shell-vulstasie in Mookgophong besit en was die bevelvoerder van die destydse kommando op die dorp totdat dit ontbind is.

Joe was geliefd onder sy vriende en kennisse en sal veral onthou word vir sy welige snor en dat hy altyd ’n grappie gehad het om te vertel.

“Oom Snorre, wat ’n legende! Ons harte rou, ons trane vloei… jy word gemis,” het Ruan Kukard op Liana se Facebook-blad geskryf.

Hy word oorleef deur Liana, hul seun Danie en skoondogter Nadine Geyer, asook een kleinkind Liamé.

Sy roudiens vind op Saterdag 16 Junie vanuit die NG Kerk Naboomspruit plaas. Ds. Louis Pretorius sal die diens waarneem.

Related Articles

Back to top button