Local newsNews

Nikita, kom asseblief huis toe!

"Sy het op 31 Maart verjaar. Ons kon nie eens die dag saam met haar vier nie."

Dit is vyf maande sedert die stil, teruggetrokke tiener met die groot blou oë spoorloos verdwyn het.

Sedert die dag dat haar familie in Januarie bekommerd geraak het omdat sy teen donker nog nie terug van Hoërskool Nylstroom af was nie, was daar nog geen nuus oor die 14-jarige Nikita Walkinshaw nie. Sy het in die niet verdwyn.

Anneline Walkinshaw raak hartseer as sy oor haar broerskind praat. “Nikita is ’n alleenloper en het nie baie vriende nie. Sy was maar skaars ’n week by Hoërskool Nylstroom toe sy verdwyn het,” het sy aan Die Pos vertel.

“Nikita het in Desember van Stilfontein, waar sy by haar ma gewoon het, hier in Modimolle by familie kom bly om nader aan haar pa, Johnny Walkinshaw, te wees. Ons het slapelose nagte van kommer of die kind veilig is,” het sy gesê.

“Sy het op 31 Maart verjaar. Ons kon nie eens die dag saam met haar vier nie.”

Die polisie se kinderbeskermingseenheid in Modimolle het die afgelope week by navraag aan Die Pos gesê dat hulle “alle leidrade opgevolg het”, maar Nikita het soos ’n groot speld verdwyn.

Volgens lt.kol. Philemon Ngobeni kan Nikita se selfoonsein “nie meer opgespoor word nie”. Die polisie het hulp van oraloor ingeroep, het Ngobeni gesê. “Nikita kan enige plek in die land wees.” Hy het gesê die polisie “soek na ’n 47-jarige man op ’n klag van ontvoering”. Die polisie wil egter geen inligting oor dié geheimsinnige man aan die media verskaf nie. Nie ’n naam nie. Nie sy adres of werkplek nie. Ook nie hoe die polisie hom met Nikita se verdwyning verbind nie.

Verskeie brokkies inligting het reeds aan die lig gekom, het Die Pos egter wel in ons ondersoek uitgevind. Nikita het glo gedurende Desember ’n man in Reitz in die Vrystaat by ’n vriendin ontmoet. Ná haar verdwyning is haar selfoon glo nagespeur tot in Reitz, maar sy was nie by die adres toe die polisie opgedaag het nie.

Daar word vermoed dat dié man haar op die dag van haar verdwyning voor die hoërskool opgelaai het. Sy is vermoedelik vrywillig saam met hom.

Die man het glo by sy werk in Reitz bedank en is daarna glo nog nie weer deur sy familie gesien nie. Sy NP200-bakkie, sonder ’n registrasienommer, “kan nie opgespoor word nie”, hoor Die Pos by navraag.

Die Walkinshaws ken hartseer goed. Nikita se ouma en pa, Susan en Johnny Walkinshaw, is baie bekommerd oor Nikita se veiligheid. Susan hou ’n koerantberig vas oor haar dogter, Isabel Walkinshaw, wat in 2007 wreed in Modimolle vermoor is. Dié misdaad is steeds nie opgelos nie.

Nikita se familie, inwoners, die Pink Ladies wat na vermiste mense soek, intelligensiedienste en die kinderbeskermingseenheid staan ná vyf maande steeds met leë hande.

“Wat soek ’n 47-jarige man by ’n 13-jarige meisie?” wou Anneline vroeër ontsteld by Die Pos weet.
“Sy is nog ’n kind en ons is bitterlik bekommerd. Dit voel asof niemand ons wil help nie. Ons vermoed dat die man êrens wegkruip by iemand wat hom help, want waarvan leef hulle andersins?”

  • Enigeen met inligting kan vir Ngobeni bel by tel. 082 469 1187 of vir Anneline by tel. 073 606 4965 bel.
  • Missing Children South Africa waarsku dat daar elke vyf uur ’n kind in Suid-Afrika vermis raak, wat beteken dat daar jaarliks 1 697 vermiste kinders is.

Sowat 23% van die kinders word nie weer gevind nie.

Hulle moedig mense aan om ’n vermiste kind so gou moontlik by die polisie en organisasies wat na vermiste kinders soek, aan te meld.

Die Pink Ladies se raad aan ouers is om betrokke te wees by hul kinders en te weet wie hul vriende is. Hulle raai aan dat kinders nie sonder volwasse toesig gelaat moet word nie, tensy hulle seker is dat hulle veilig is. Ouers moet uitkyk vir tekens van misbruik en met hul kinders praat oor die gevare van die internet en die werklike lewe.

Related Articles

Back to top button