Local newsNews

Voertuig glo beskadig nadat gebarste pyp diep gat in pad veroorsaak

Die gat was volgens hulle sowat ’n halwe meter diep.

’n Eis om skadevergoeding staar die Bela-Bela-munisipaliteit in die gesig nadat Christo Stander, inwoner van die dorp, se voertuig op Saterdag 2 Junie in Hospitaalstraat in ’n oop gat beland het.

Sonja, sy vrou, het aan Die Pos gesê dit het aanvanklik soos ’n vlak plas water gelyk toe Christo by die stopstraat aangekom het, maar tot hul verbasing was dit ’n diep gat.

Die gat is na wat verneem word deur ’n gebarste pyp veroorsaak.

Dit was volgens hulle sowat ’n halwe meter diep. Die gat is intussen met grond gevul.

Die Standers het geen versekering op die voertuig nie en dit is ook hul enigste vervoermiddel, het Sonja gesê. Hulle beoog om ’n eis teen die munisipaliteit in te dien.

Volgens Sonja het nog ’n inwoner se bakkie glo op dieselfde dag in dié gat beland, maar die inwoner kon daarin slaag om uit te kom.

Verkeerskegels is egter eers ná die Standers se voorval rondom die gat geplaas om ander inwoners te waarsku, het sy gesê.

Waterlekke en pype wat bars kom al hoe meer in die dorp voor sedert die munisi-paliteit begin het om die ou waterpype in die dorp met nuwes te vervang. Die projek om die pype te herstel word deur ’n munisipale infrastruktuurtoelaag befonds.

Inwoners is gereeld sonder water weens hierdie probleem.

Die Pos is ook bewus gemaak daarvan dat die lekke weer vinnig ontstaan sodra die waterpype herstel is. Inwoners bevraagteken al geruime tyd of die werkers bekwaam genoeg is om die pype te kan herstel.

Die Pos het vertroulik verneem dat daar ’n tekort aan voorraad is om die pype te herstel en gewillige munisipale werkers moes telkemale uit hul eie sak vir voorraad betaal.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, is om kommentaar genader, maar het teen druktyd geen terugvoer gegee nie.

Hy het vroeër gesê indien mense eise om skadevergoeding wil instel, kan hulle die munisipaliteit besoek.

Related Articles

Back to top button