Local newsNews

Slangvangerhond misgis hom met mamba

’n Sewejarige weimaraner, wat ’n bobaasslangvanger was, het sy Moses teëgekom toe hy ’n swart mamba op sy plaaswerf doodgebyt en in die proses self gebyt is.

Die geliefde, silwerkleurige Pepper wat aan Bennie en Hilda Marais van Tuinplaas behoort het, het tientalle slange op sy kerfstok gehad en het al boomslange, wipneuskobras en pofadders afgemaai.

“Pepper kon nie ’n slang uitlos nie en ons het geweet dat hy hom eendag gaan vasloop,” het Theunis Victor, ’n familielid en slangvanger van Modimolle, aan Die Pos gesê.

“Pepper sou ’n slang gryp en in sy mond prop terwyl die slang nog leef. Hulle kon hom telkemale nadat hy gebyt is, red deur kortisoon in te spuit, maar ons was altyd bang vir die dag dat hy ’n mamba teëkom en kortisoon nie sou help nie.”

Victor het vertel dat Pepper op ’n keer vir groot konsternasie gesorg het toe hy met ’n lewende pofadder tussen hulle ingehardloop het waar hulle gebraai het. “Dit het gereeld gebeur dat hy met ’n slang rondhardloop met mense wat agter hom aanhardloop om die slang te probeer afneem voordat dit hom byt.” Daar is volgens hom volop slange in daardie gebied.

Dit was glo nie dadelik duidelik of die mamba Pepper gebyt het ná hul onderonsie op Dinsdag 29 Mei nie. “Anders as met ’n pofadder se byt, veroorsaak ’n mamba se byt nie swelling nie, maar tas die senuweestelsel aan wat die asemhaling en hartklop beïnvloed. ’n Mens moet jou dier baie vinnig by ’n veearts kry as dit gebeur, maar ongelukkig was sy eienaars net te ver van die dorp af en kon hulle nie betyds daar uitkom nie,” het Victor gesê.

Hy waarsku inwoners dat dit nie waar is dat slange nou hiberneer nie. “Dit word nie koud genoeg by ons daarvoor nie. Die slange is wel minder aktief, maar hulle kom steeds uit hul skuilplekke om in die son te lê en bak,” het hy gesê.

Pepper het volgens hom ’n kenmerkende “slangblaf” gehad. “Ek raai mense aan om hul honde te probeer leer om net te waarsku as daar ’n slang is en hulle nie aan te moedig om dit self dood te maak nie. Die kanse dat hulle gebyt word en dan dood gaan, is te groot,” het hy gesê.

Related Articles

Back to top button