Local newsNews

Saam staan teen grondonteiening

“Onteiening van grond sonder vergoeding word verwerp aangesien niemand grond gesteel het nie.”

Dít is aan die einde van ’n vergadering op Woensdag 23 Mei met boere van die Bela-Bela-omgewing by die ATKV-Klein-Kariba-vakansieoord gesê.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die Transvaalse landbou-unie van Suid-Afrika (TLU SA) het die boere tydens die vergadering toegespreek.

Grondeienaars wag in spanning om te hoor of die parlement wetgewing oor die eienaarskap van grond gaan hersien, wat dit dan wettig sal maak vir die regering om grond sonder vergoeding te onteien wanneer dit in openbare belang is.

Van Zyl het in sy toespraak gesê gemeenskappe sal moet saamstaan en betrokke raak in enige moontlike aksie om dié proses teen te staan.

“As ons niks doen nie, is dit ’n stilswyende kondonering daarvan van ons almal af,” het hy gewaarsku.

Hy het ook gemaan teen mense wat verkondig dat die onteiening nie sal plaasvind nie en dat die storm daaroor sal verbygaan.

“Gaan lees gerus die ANC se strategie- en taktiekdokument (Strategy and Tactics). Daarin sê hulle wat hulle gaan doen, en hulle doen wat hulle sê hulle gaan doen.”

Hy het voorts voorspel as die regering enige bates sal “steel” deur onteiening, die gevolge erger vir die land sal wees as wat oudpres. Jacob Zuma se staatskaping-skandaal was.

“Kapitaal volg nie die pad van onsekerheid nie en pres. Cyril Ramaphosa het onsekerheid geskep met sy aankondiging van onteiening sonder vergoeding,” het Van Zyl gesê.

“Dit is nou meer as ooit tevore nodig dat gemeenskappe saamstaan en -werk, en sorg dat hulle ingeligte besluite kan maak sodat positiewe druk op die regering geplaas kan word. Burgerlike wringkrag kan ’n groot verskil maak.”

Henk van de Graaf, TLU SA se provinsiale voorsitter in Limpopo, het mense tydens die vergadering gevra om hul titelaktes of gewaarmerkte afskrifte by verbandhouers in te dien aangesien dit ’n dokument is wat deur die regering uitgereik is en wat as bewys sal dien dat die grond werklik deur die eienaar gekoop is, het hy gesê.

“Dit kan waardevolle bewysstukke wees in sake wat kan voortspruit uit enige moontlike onteiening,” het Van de Graaff gesê.

Die Pos het vroeër by die parlementêre hersieningskomitee, wat teen Augustus sal bepaal of Artikel 25 van die Grondwet gewysig moet word of nie, verneem dat die sperdatum vir alle vertoë en voorleggings op Vrydag 15 Junie is.

Related Articles

Back to top button