Local newsNews

Hedendaagse voertuie gemaak om lewens te red

Baie van ons glo graag dat die ou motors wat soos pantservoertuie gebou was, veiliger is as vandag se nuwe motors wat so sag is dat die petroljoggie verlede week ’n duik in die dak gedruk het toe hy die brandstoftenk se prop daarop neergesit het.

Tog is vandag se motors veel veiliger as ouer modelle en met die beskikbaarheid van basiese veiligheidstelsels, selfs in goedkoper modelle, is hierdie tegnologie byna aan alle kopers beskikbaar.

Die sterftesyfer onder insittendes van groter motors is heelwat laer as dié in klein motors.

Groter motors is dus veiliger omdat hulle meer ruimte bied vir “krummelsones” en gewoonlik langer enjinkappe het wat ’n groter oppervlak vir die absorpsie van ’n impak beskikbaar stel.

Wanneer groot motors met klein motors bots, word meer krag op die insittendes van die kleiner motor toegepas en die risiko is gevolglik groter.

Die stergradering van motors moet ook nie verwar word nie. ’n Stergradering kan slegs vergelyk word met ander motors van dieselfde grootte.

’n Klein motor wat vyf sterre in botsingtoetse verwerf het, sal nie dieselfde beskerming kan bied as ’n groot motor met vyf sterre nie.

Die Insurance Institute for Highway Safety in Amerika het in 2015 bepaal dat groot sportnutsvoertuie die laagste sterftesyfer van slegs 13 sterftes per miljoen registrasies bied. Die grootste verrassing was egter die verbetering in veiligheid wat motors oor die voorafgaande tien jaar getoon het. Klein motors het ’n afname van 57% in sterftes per miljoen registrasies getoon terwyl groot nutsvoertuie ’n verbetering van 71% getoon het.

Die verbetering onder nutsvoertuie was hoofsaaklik te danke aan die aanbring van stabiliteitsbeheer en die versterking van dakontwerp.

Groot nutsvoertuie loop die gevaar om makliker te rol, maar slaan veel moeiliker om as die voertuig toegerus is met stabiliteitsbeheer.

Daar is egter bewys dat meer as 90% van botsings verband hou met die bestuurder se gedrag en besluite. Iemand se bestuursvernuf bly veel belangriker as die voertuig wat hy of sy bestuur.

Related Articles

Back to top button